top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

“Armsalige” leiers...

deur Johan Beukes Vanuit ’n besigheidsperspektief sou die Bergrede (Mattues 5-7) heel waarskynlik as sukses faktore vir leiers gesien kon word. Kom ons gebruik Matt 5:3 as praktiese voorbeeld: “Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal verseker ’n plek kry in God se nuwe wereld...” (Boodskap). In ’n ander vertaling word dit as volg gestel: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Miskien sou ons leiers wat volgens hierdie sukses faktor leef, armsalige leiers kon noem. Die hoofkenmerk van ’n armsalige leier is hulle bedelaar–ingesteldheid teenoor die lewe. Om ’n armsalige leier te wees beteken nie hulle het ’n “jammer ek leef houding” nie. Met hierdie tipe houding sou jy toelaat dat mense op jou trap uit vrees vir verwerping. Jy sou jouself kon wysmaak dat die Here dit van jou, as leier, verwag. Jy kan ook die vloerlap leier genoem word. Om ’n armsalige leier te wees beteken ook nie dat jy ’n “ek leef voluit en niks kan my keer want Hy is in beheer” houding het nie. Met hierdie tipe houding kan jy geneig wees om af te kyk op mense omdat jy oortuig is dat die Here op ’n uiters spesiale manier met jou is. Jy kan ook die arrogante leier genoem word. Om ’n armsalige leier te wees beteken dat jy ’n leier is wat tevrede is met wat jy het omdat jy weet alles is net geleen en dat jy môreoggend, soos elke ander oggend, weer “bakhand staan” om te ontvang. Die tipe leiers werk egter hard omdat dit hulle laaste dag kan wees. Hulle beleef en help skep nou reeds iets van God se nuwe wêreld... Sou jy jouself as vloerlap, arrogante of armsalige leier tipeer?

bottom of page