Die 10 Sekonde Reël deur Clare de Graaf [resensie]
deur Marius Nel Sê ja vir Jesus — dis so maklik! Dié boek handel oor daardie insig of stem wat vir jou sê om iets te doen — om iemand te help of ’n gesprek met iemand aan te knoop of te vra of jy nie iets kan doen nie — en hoe om daaraan gehoorsaam te wees. Die skrywer is ’n Amerikaanse predikant wat by ’n bediening betrokke is wat die Bybel in gebaretaal vir dowes vertaal asook by kerkstigting en ekonomiese ontwikkeling in Haiti. Uit sy boek is dit duidelik dat hy wye ervaring het. Eenvoudige gehoorsaamheid is nie altyd eenvoudig nie. Soms is ’n mens net te moeg om te doen wat jy beleef die Here van jou vra, of jy is onder soveel druk dat jy nie kans sien daarvoor nie. Of jy tel alles wat jy meen jy gedoen het bymekaar en kom tot die gevolgtrekking dat jy oor die algemeen “goed” is, dat jy ’n positiewe saldo het in vergelyking met ander Christene wat jy ken. En dan wag jy dat die Heilige Gees doen wat die Gees eintlik vir jou vra. Uit dié ervaring het die skrywer ’n lewensreël ontdek, ’n motto, eed of belofte wat, as dit met dapperheid en konsekwentheid uitgeleef word, jou op een of ander tydstip verander van wie jy is in die mens wat jy begeer om werklik te wees. Dié lewensreël is ’n eenvoudige manier wat jy navolg in die geloof dat dit is wat die Here van jou verlang. Die 10 sekonde-reël sê: doen net die volgende ding wat jy redelik seker is Jesus wil hê jy moet doen. Verbind jou onmiddellik daartoe wanneer jy agterkom dat die Here iets op jou hart lê, sonder om daaroor te begin redeneer, voordat jy van plan verander. Want daar is twee stemme wat in ons lewe praat. In die woorde van Rick Warren: indien jy jou nie aan God oorgee nie, sal jy jou oorgee aan die opinies of verwagtings van ander, of aan geld, aan gegriefdheid, aan vrees of aan jou eie hoogmoed, luste of ego. Die res van die boek bevat verhale van mense wat sulke keuses maak, of nie maak nie. Dit vertel van hoe jy by ’n hawelose man verbystap, terugdraai en vra: is jy honger? Kan ek vir jou ’n maaltyd koop? En wanneer jy saam met die man aan tafel sit, vra hy: hoekom doen jy so iets? Wat wil jy van my kry? En jy antwoord: want dit is wat die Here van my verwag. Wat ’n geleentheid skep om met die man te gesels oor die belangrikste aspek van sy lewe: sy verhouding met God. ’n Boek oor ’n eenvoudige lewensreël, maar waarvan elke gelowige wat belang stel om gehoorsaam aan die Here te word, blootgestel moet word.