Gee my net die boekie, laat ek net sing.
deur Pierre du Plessis Daar is twee tipes mense wat Jesus volg. Die eerste tipe was ons almal al en sommige steeds. Dis die tyd net na jy tot bekering gekom het, daai tyd wanneer elke preek ’n openbaring is, elke liedjie wat jy sing jou hoendervleis gee, en jy elke keer sweer die Gees was nou net hier. Daardie tyd van hande in die lug staan, uit volle bors sing, en twee keer op ’n Sondag dienste bywoon. In daardie tyd voel jy God is naby, Hy luister vir jou, Hy antwoord jou gebede, en Hy dra jou oral. Dan is daar die tweede tipe, hierdie tipe loop gewoonlik al langer as ’n jaar of wat agter Jesus aan. Die tipe het al gevind dat dit eintlik moeilik is om agter Jesus te bly aan loop. Hulle het al uitgevind dat soms, al sing jy hoe hard en al stig jy hoeveel gebedskettings, God stil bly. Hierdie tipe ken van paradoks, van nogtans, en van ten spyte van. Hierdie tipe het karakter, is nie meer net God se mooiweers vriende nie. God skaaf aan hulle, leer hulle, en snoei hulle. Tog staan ek gereeld op die drumpel om die tweede fase binne te gaan, maar dan is dit vir my te veel, om weer die paradoks, die spanning, en die stilte te betree. Ek draai dan liewer om en tel die boekie op en sing kliphard en hoop dit help en alles word weer soos dit was, maar dan knaag die Gees aan my en ek sing harder om Hom uit te doof, maar ek staan dan alleen ten spyte van die hande om hoog, die gebedskettings, en die lofliedere. God is meer as hoendervleis op ’n Sondag, het ek uiteindelik besef. God wil die duike uit my siel hamer. So ek wil jou aanmoedig dat wanneer jy op die drumpel staan dat jy sal oorstap saam met my, dat jy sal toelaat dat God jou meer wys, veral meer van wie jy kan word, van die karakter wat Hy in jou wil bou.