Vrouens met eekhoringsindroom
deur Helena van Emmenis Baie male stap ek in mense se huise in en sien dat daar nie ’n enkele leë plekkie in die huis is nie. Elke kamer, kas en pakplekkie is tot boordens toe vol. Maak jy die kasdeur oop, val hordes roomysbakke op die vloer. Om nie eens te praat van die bokse vol liefdesbriewe en skoolsertifikate nie. Ja, jy ly aan eekhoringsindroom! Een moontlike verklaring is dat jy in jou kinderjare dalk armoede beleef het en dat jy nou opgaar ingeval jy dit môre mag nodig kry. Die verklarende woordeboek sê opgaar is om te versamel, bymekaar te maak vir latere gebruik of om uit hebsug te versamel. Mense wat soos eekhorings leef, irriteer veral hul mede-huisbewoners. Dit raak totaal buite beheer. Vrouens gaar op vir wanneer hul kinders die dag gaan trou. En so raak almal eekhorings wat dink hulle sal dit nog op ’n stadium kan benut. Moontlike verklarings vir eekhoringsindroom is dat sommige mense verhoogde angs beleef, saam met die vrees vir verlies en skeiding, wat kan meebring dat mense dinge wil behou eerder as om ’n realistiese oordeel oor die toekomstige bruikbaarheid daarvan te maak. Mense wat in die depressiejare groot geword het, gooi moeilik weg. Soveel mense leef in die grootste armoede in ons land en kan doen met die oordaad van ons vol kaste en motorhuise. Elizabeth Seton het gesê: Live simply that others might simply live. Hoe nodig is dit nie dat ons besef dat ons meer en meer nie net onsself nie, maar ook ons aardse woning vernietig met besittings. Die mensdom moet minder gebruik, misbruik, verbruik en vernietig. Is dit nie hartseer dat ons wêreld opgedeel is in een helfte van mense wat met soveel oorvloed leef dat hulle, vir hul gesondheid, op dieët moet gaan, terwyl die ander helfte nie naastenby genoeg het om te kan oorleef nie. Hoop elke vrou sal kan leef die die leuse: Minder is meer!