top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Maak klaar en beweeg vorentoe?

deur Johan Smith Ons lees vir die eerste keer van Elisa in die Bybel in 1 Konings 19 as ’n gewone boer wat besig is om te ploeg. Twaalf osse, twee-twee gespan en Elisa heel agter — wat ’n uitsig om te hê elke werksdag van jou lewe! Die volgende oomblik, asof uit die niet, verskyn Elia op die toneel en ’n lewensveranderende moment vind plaas in Elisa se lewe. Elia gooi sy mantel oor Elisa: dis ’n radikale ingryping en verandering van waarheen Elisa oppad is en wat sy eintlike lewensdoel is. Hy doen ’n baie interessante ding voordat hy saam met Elia die pad vorentoe aanvat: hy verbrand al sy ploegskare en instrumente en maak ’n baie groot braaivleis met sy osse. Hoekom? Hy maak seker dat dit wat agter is, verby is — dis verlede tyd. Hy laat nie ’n agterdeur oop om terug te gaan na ’n ou lewe nie. Hy maak eers klaar, hy handel eers af en dan gaan hy vorentoe. Dan pak hy die nuwe aan. Dalk ken jy die bekende Skrifgedeelte in Jesaja. Dit word ongelukkig gereeld gebruik en aangehaal sonder die eerste sin: Jesaja 43: 18-19: Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom. Ek maak in die woestyn ’n pad. Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die Here wil in jou lewe ook ’n nuwe ding kom doen. Hy wil jou ook op nuwe paaie vat. Het jy al vergewe? Het jy al ontslae geraak van die leuens uit jou verlede wat vandag nog jou identiteit bepaal? Het jy al vergifnis ontvang en aanvaar vir sonde wat jou in kettings gebind het? Het jy werklik daardie sonde laat staan en agter gelaat? Maak klaar sodat God jou vorentoe kan vat!

bottom of page