top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

7 Ritmes Binne 7 Dae deur Andries Enslin en Tom Smith [resensie]

deur Marius Nel Andries Enslin is die gesig van Alberton LewenSentrum terwyl Tom Smith die medestigter van Rhythm of Life is, ’n organisasie wat kerke help om missionale dissipelskap te bevorder. Dié boek begin met ’n verduideliking hoe dié gemeente se sewe waardes ontstaan het wat met die hele mens te doen het: Hele hart verwys na wedergeboorte — elke mens moet die liefde van God ervaar en kind van God word. Hele verstand verwys na stiltetyd. Hele siel verwys na karakterverandering. Hele krag verwys na die behoefte om ’n goeie bestuurder te wees. Naaste verwys na die belang van kleingroepe en ook na die nood van die wêreld wat vra dat die evangelie na hulle uitgedra word. En selfliefde verwys na ’n gebalanseerde, uitmuntende lewe. Dié sewe waardes word nou in verband gebring met sewe ritmes wat jou lewe in ’n nuwe rigting instuur om dit in pas te bring met wat die skrywers meen die hartklop van Jesus is. Die sewe waardes is: om te besef dat God liefdevol is en in ’n verhouding met jou as mens wil staan; dat God beskikbaar is en jou ontmoet waar jy is; dat God jou genees sodat sy karakter in jou kan groei; dat God die Koning is en jou hulpbronne en gawes vra sodat Hy sy koninkryk daarmee kan uitbrei; dat Hy drie-enig is en jou uitnooi om in sy gemeenskap te deel; dat God lief is vir die hele wêreld en jou stuur om ook lief te hê; en dat God skeppend is en jou roep om Hom met jou hele lewe te volg. Die hoofstukke handel dan oor ’n verduideliking van dié sewe ritmes en is verryk met goeie sketse. Stephan Joubert skryf in sy voorwoord tot die boek dat jy hier twee helder en vars stemme kry wat in hulle boek jou begelei om aan die hand van die sewe leefritmes van Jesus aan die gejaagde lewenstyl te ontsnap en die evangelie vanaf jou hart na jou vingerafdrukke en voetsole oor te dra. Hy beklemtoon ook dat dit nuttig sal wees om die boek saam met ander navolgers van Jesus deur te werk.

bottom of page