Hoe weet jy dat jy weet?
deur Pierre du Plessis
Gedurende Paasnaweek is sosiale media ’n interessante plek. Daar word maar geslinger na die Christene wat so iets belagliks kan glo soos iemand wat opstaan uit die dood, soos God wat mens geword het. Dit laat my self ook soms wonder, hoekom glo ek dit?
Ek glo in die opstanding, want ek sien dit elke dag. Ek sien dit as die son opkom, ek voel dit as ek my oë oopmaak in die oggend, en ek hoor dit as my kinders lag. Ek hoor die stories van opstanding wanneer mense se lewens verander as hulle die eerste keer agterkom Jesus is al hulle hele lewe lank rondom hulle. Ek sien dit in stories van rekonsilliasie, van vergifnis, van nuwe lewe, van mense wat werk kry na ’n lang gesukkel, en van iemand wat hul passie ontdek. Ek proe dit in die wyn wat ek saam met my vriende drink, die kos wat ons deel wanneer ons saam om ’n tafel sit en paasfees hou. In elke maaltyd is daar mos ’n deel offer en ’n deel opstanding; dit is dieselfde kos wat doodgaan wat ons ook lewe gee.
Hoe weet ek dit is waar, ek weet dit op dieselfde manier as wat ek weet, voor my siel, dat ’n sonsopkoms mooi is, dat my vrou vir my lief is, en dat ons ‘okay’ gaan wees.
Ek het eers onlangs uitgevind dat Paasfees nie net ’n naweek of ’n Sondag is nie, maar ’n hele seisoen in die jaar wat strek van opstandings Sondag tot Pinkster, meer as ’n maand van feesvier. So, mag jy hierdie Paasfees fees vier, mag jy elke dag feesvier wetend dat Jesus hier by ons is, en dat die nuwe wêreld oopgebreek het met hom as eersgeborene.
Genade en Vrede.