top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Truspieëlbeeld

deur Felicia Lategan

Toe 2014 sy vars kop uitsteek, het ek vol verwagting (vir die soveelste keer) ’n denkbeeldige nuwe blaai oopgeslaan. Kraakvars-wit om nuwe planne, drome en verwagtings neer te pen. My belofte: hierdie jaar gaan anders wees!

Regtig?

Verskeie gebeure het ongemaklik in my spasie kom lê. Dáárdie dinge wat gebeur waaroor mens geen beheer het nie. Niks wat ek sou dink of doen kon dit ongedaan maak nie. Daarmee saam het onafgehandelde seer met vergeelde pleisters besluit om vas te plak aan die reeds gelaaide situasie(s). Die woord lewe was skielik ’n gekoek van vraagtekens.

Soms is seerkry só intens dat jy verby die drumpel van pyn beweeg. Dis dán wat jy moet besef die truspieëltjie is klein vir ’n rede en die ruit voor jou is groot en breed. Gister het laasnag geëindig en vandag is vlietend.

Wat kon ek doen? Niks... behalwe om tyd te maak vir introspeksie, heling en om te stop om al die ‘hoekoms’ te vra, al is daar nie antwoorde nie. Kry die gif uit. Dis nodig om die onbeantwoorde vrae te begrawe onder ’n boom wat klein in die truspieëltjie reflekteer. Los dit daar.

Erens vorentoe is gereelde groter bome met baie skadu. Stop dáár en vier die feit dat jy lewe, jy het dit gemaak! En... Hy is reeds daar, altyd vooruit met genade as tapyt.

Ek is nou juis op pad...

bottom of page