Om op te hou met leer is om op te hou leef
deur Stephan Joubert
Om op te hou leer, is om op te hou leef. Sommige navorsers gaan sover om te sê dat die meeste mense in hul vroeë twintigerjare ophou om kreatief te leer. Mense neem steeds nuwe informasie in, maar hulle kreatiewe leerprosesse het vaagweg gebriek. Alles word spoedig vaal, vervelig en voorspelbaar. Niks moet later daardie eentonige reëlmaat versteur nie, nie eens God se Woord nie. John Gardner vertel in “Self Renewal: The Individual and the Innovative Society” dat namate ons ouer word, ons voorliefde vir uitdagings en verandering ook al hoe minder word. Vaste verhoudings, geykte roetines, slaafse gewoontes wat ’n leefstyl geword het, en ’n toenemende luiheid om nuwe dinge te waag, kenmerk baie volwassenes se lewe. Daarom sê Gardner: “By middle life, most of us are accomplished fugitives from ourselves.” Tragies dat daar iewers tussen ons kinderdae en ons jong volwasse lewe ’n groot verlies plaasvind aan kreatiwiteit, leergierigheid en waagmoed. Te veel volwassenes is dalk slagoffers van daardie dodelike siekte genaamd verstandelike artiritis. Te veel mense groei net so ver as wat hulle nodig het om binne hulle eie omgewings te oorleef.
Belangrike sleutels tot volgehoue groei en kreatiwiteit is om goeie nuwe vrae te vra, en om oopkop te bly. Behalwe ’n valskerm, is daar eintlik net een ding wat altyd moet oop wees en dit is ons koppe. Oop, leergierige koppe is die lanseerplatform vir nimmereindigende nuuskierigheid, avontuurlustigheid en kreatiwiteit! Oop koppe verleen aan ons die vermoë om met teenstrydighede en uitdagings saam te leef. Met oop koppe vorder ons elke dag ’n stukkie verder vorentoe, ook in ons geloof. Dit open nuwe roetes na God en na ander. Dit is die enigste teenvoeter vir geestelike stagnasie. Ten einde kreatiewe dissipels te bly, moet ons bedank by daardie onwettige beweging genaamd “Nie-Leerders Anoniem.” As dissipels van Jesus moet ons lewenslange studente van die Woord en die lewe wees. Minstens een kreatiewe boek per maand moet op ons kerfstok wees. Leergierige vriende moet ons onderwysers wees. Verwondering voor God moet ons lewe oorstroom. Nuwe ontdekkings aan die oorkant van die straat elke dag saam met Jesus moet ons dagboek volmaak. Dan word ons nooit oud nie. Nuwe studies toon juis aan dat mense se kreatiwiteit tot en met die middel 80’s steeds kan toeneem. Daar’s geen verskoning vir gebrekkige leergierigheid of onkreatiewe lewens nie.