God se tyd
deur Kobie Erasmus
Laatmiddag, stap een van die meisies by my kamer in. Op daardie stadium het ek ingewoon by die Meisies-huis van Echo Youth Development.
Sy sak op my bank neer met trane wat by haar wange afrol en vra: “Kobie, ek bid regtig hard en ek glo met my hele hart... Hoekom maak die Here dan nie my lewe beter nie? Hoekom vat hy nie die seer en pyn weg nie?”
Met ’n dwase uitdrukking op my gesig maak ek my mond oop om te praat, maar ek weet, daar is niks wat ek kan sê om dit beter te maak nie.
“Ai liefie” begin ek “Die Here hoor en beantwoord elke gebed wat in sy naam gebid word. God se tyd is nie ons tyd nie, en Sy plan vir ons is soveel groter en meer volmaak as wat ons s’n is.”
Die Here het daardie dag die praatwerk kom doen en wat uitgekom het is die volgende gelykenis:
Eendag was daar ’n meisie wat baie oorgewig was. Met haar hele hart het sy begeer om maer te wees. Sy wou nie langer in haar oorgewig lyfie lewe nie en wou so vinnig as moontlik daarvan vry kom en nuut begin. Sy het liposuction ondergaan en ’n pragtige nuwe lyfie gekry.
Maar die hartseer wat gemaak het dat sy te veel eet was steeds daar. Sy het ook nie geweet hoe om die mooi nuwe lyfie op te pas nie. Sy het nie tyd ingeruim vir oefen nie en het nie genoeg selfvertroue gehad om deel te neem aan sport nie. Kort voor lank was die ou lyfie terug en was die moedeloosheid en hartseer selfs meer as voorheen.
“Jy sien liefie, dit vat tyd om seker te maak dat alles in plek is. Hy is besig om jou gebed in totaliteit en in volheid te beantwoord. Hy maak seker dat wanneer Hy jou hartjie genees, jy sterk en slim genoeg is om jou mooi, nuwe, heel hartjie op te pas. Hy maak seker jy weet hoe om op te tree, en dat jy sal weet watter dinge om te doen om jouself so mooi te hou. Hy maak seker dat jy Sy liefde leer ken en sterk bande vorm met die mense wat jou liefhet, sodat hulle kan help om jou te beskerm teen die mense en dinge wat jou hartjie in die eerste plek so seer gemaak het.”
“Jy sien, die Here kan dit nie oor Sy hart kry om vir jou ’n quick fix te gee nie, nee, Hy werk hard en aanhoudend om vir jou die real deal te gee.”