7 Woorde wat Jou Lewe kan Verander deur Annes Nel [resensie]
deur Marius Nel
Christene hoor dikwels die woorde van die Bybel vir dekades lank. Hulle lees dit. En raak gewoond daaraan. Die nuutheid en rewolusionêre aard van die woorde gaan verlore omdat dit vir ons mak geword het; ons het dit gewoon al te veel kere gehoor.
Wat Annes Nel doen, is om die wonder van dié woorde te demonstreer deur dit opnuut vir ons oop te breek. Deur sewe aangrypende frases te neem wat in die evangelies voorkom, toon hy aan hoe relevant dié woorde vir ons dag is en hoe toepaslik dit in ons lewe is.
Annes is gemeentepredikant wat ook in die akademiese wêreld ’n draai gemaak het en sy passie is om vir mense te demonstreer dat elke mens ’n plek in God se hart het. Sy passie sien jy ook in dié boek. Hy skryf oor die sewe kruiswoorde en praat met groot emosie oor God se hart wat Jesus aan die kruis sien ter wille van die sondaar.
Die kruiswoorde het in ander tradisies dikwels ’n belangrike rol vervul maar nie in die kerke waaraan Afrikaanssprekende mense behoort nie. Daarom is dié boek se ekstra waarde om die kruiswoorde opnuut onder ons aandag te bring: Vader, vergewe hulle. Onthou my! Daar is u seun; daar is jou moeder! Waarom het U my verlaat? Ek het dors! Dit is afgehandel. In u hande gee Ek Myself oor.
Annes praat oor die implikasies van die kruiswoorde wanneer dit in gelowiges se lewe gebeur: dat dit ons genadige mense maak, dat ons hoop ronddra in ’n wêreld wat aan hooploosheid ly, dat ons mekaar omhels en na mekaar uitreik, dat ons saam met mense is wat na die rand van die samelewing uitgeskuif word omdat hulle waarde in twyfel getrek word, dat ons verlang, dat ons vry is en vry maak, en dat ons sinvol sterf omdat ons ook so gelewe het.
Annes stel dat sy uitgangspunte is dat God se Woord deur sy Gees ’n mens verander, dat gelowiges saam met Christus gesterf het maar ook opgestaan het, dat Christene radikaal anders is en dat ons slegs raakgesien word as ons anders lewe, anders glo, anders bid en anders is.
’n Tydige boek met die oog op Lydenstyd wat met groot persoonlike nut as basis vir jou Bybelstudie kan dien!