top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Los jou bagasie — Deel 1

deur Pieter van Heerden

Jy het seker al soos ek, veral as jy reis met jong kinders, ’n stryd gehad om al die familie se bagasie uiteindelik by die eindbestemming te kry. Dit kan ’n moeilike proses wees, gepaard gaan met frustrasie, sweet en selfs beserings. Die verligting om van die bagasie ontslae te raak, met arms wat pyn, is ’n baie aangename ondervinding. Daar is miljoene mense wat elke dag persoonlike bagasie met hulle saamsleep. Vir sommige is dit ’n werklike las wat hulle voel hulle nie van ontslae kan raak nie, vir ander is dit ’n “goeie” verskoning. Jesus praat hieroor terwyl Hy rondreis en die Goeie Nuus verkondig omdat Hy weet hoe belangrik dit is. Ons lees in Matt 11:28: Kom na My almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee. Bagasie maak moeg, bagasie veroorsaak dat ons stadiger beweeg, nie ons volle potensiaal bereik nie, vinniger boedel oorgee. Lees saam met my hoofstukke 11 en 12 in 2 Samuel. Hier leer ons van Koning Dawid en sy owerspel met Batseba. Lees nou Ps 51, die Psalm wat Dawid skryf nadat Natan op bevel van die Here by Dawid kom aanklop het.

1. Dawid beplan die koelbloedige moord op Uria, die wettige man van Batseba, tot in die fynste besonderhede. Hy doen dit om selfsugtige redes, net omdat hy die mag het om dit te doen en omdat Dawid Uria se vrou begeer. Nadat Dawid by haar geslaap het word sy swanger en dit lyk of net meer as 9 maande verloop het voordat Natan daar by Dawid opdaag en hom herinner aan die voorbedagte moord. Dawid trap in die strikvraag van Natan wanneer hy in ’n oomblik van verontwaardiging in 2 Sam 12:5-6 sy eie oordeel uitspreek. Dit moes as ’n skok gekom het toe Samuel aan hom se: JY IS DIE MAN! Dit lyk dus asof Dawid tot op daardie stadium geen berou gehad het of enige probleem met sy optrede gesien het nie, maar nou skielik het Dawid bagasie uit sy verlede wat hy met hom moet saamsleep. Dawid hanteer die situasie egter met groot nugterheid en wend hom tot die Here. Hy kon so maklik in depressie verval het, verskonings gesoek het vir sy optrede, of hom verlustig het in sy verknorsing deur selfbejammering.

2. Wat doen Dawid egter? 2 Samuel 12:16-20

Dawid wend hom tot die Here. Hy soek God se aangesig en uiteindelik kom die skuldbesef en ook die skuldbelydenis. Dawid se verkeerde optrede is nou in die publieke oog en as koning van Israel stel hy ’n ongelooflike voorbeeld wat tot vandag toe vir ons almal kan dien as ’n riglyn vir gebed in skuldbelydenis. Wat ongelooflik is, is die feit dat Dawid ’n Psalm skryf vir die musiekleier. Dit beteken dat hierdie Psalm herhaaldelik gesing gaan word as die volk bymekaarkom en dat Dawid gedurigdeur aan die proses wat hy deurgegaan het herinner gaan word.

3. Wat is dit wat jy so saamsleep, wat so ’n las is vir jou, wat jou in selfbejammering laat verval, jou miskien laat verlustig in jou omstandighede en redes gee om nie te word dit wat God vir jou bedoel het om te wees nie?

Glo jy dalk dat dit wat jy gedoen het of wat aan jou gedoen is, so erg is dat jy tot jou laaste dag die stuk bagasie met jou sal moet saamdra? Miskien is dit iets waaroor jy glad nie trots voel wat jy aangevang het of aan iemand gedoen het nie, dalk ’n verhouding wat verkeerd geloop het met ’n ouer, ’n broer of suster of ’n vriend, iemand na aan jou was en jou vertroue geskaad het, jou wiskunde onderwyser wat jou verkleineer het in standerd 4, ’n kind wat jou geboelie het of enigiets wat jy hier in die spasie kan invul. Neem asseblief die tyd om dit iewers neer te skryf.

4. Wat nou gemaak?Bring jou bagasie na die voet van die kruis. Onthou dat Jesus selfs in Sy donkerste uur tyd en deernis gehad het vir die moordenaar wat langs Hom aan ’n kruis gehang het. Ek nooi jou uit om Ps 51 biddend voor die Here te bid deur dit eenvoudig te lees en jou bagasie met Hom te deel. Hy weet in elk geval wat dit is, net soos Hy geweet het van Dawid se “geheime” plan, maar Hy wil dit uit jou en my mond hoor. En as jy bagasie het wat jy saamdra as gevolg van iemand anders se woorde of optrede, bring dit na die Here toe. Onthou dat daar ook hulp is binne die ekerk familie. As jy voel jy wil jou bagasie met iemand deel en hulp ontvang daarmee, kontak gerus vir Elmarie by Een-tot-een (eentoteen@ekerk.co.za).

Gebed

Liewe Here,

Ek het bagasie wat ek saamsleep.

Dit maak my moeg, hou my terug, laat my moed opgee voor ek by die wenpaal kom.

Here, ek wil daarvan ontslae raak, dit na U toe bring.

Ek wil daardie rus wat U belowe ervaar.

Here, ek vra vergifnis vir wat ek hierbo neergeskryf het/Ek wil daardie persoon wat my tenagekom het vergewe, want ek besef deur dit te doen ek op die pad van genesing begin stap, alhoewel dit moeilik is om te vergeet.

Dankie dat U verstaan omdat Uself mense vergeef het vir wat aan U gedoen is aan die kruis en ook die moordenaar langs U vergeef het vir wat hy gedoen het.

Dankie vir U genade en liefde.

In Jesus se kosbare naam.

Amen

bottom of page