Op Soek na Jesus deur Neels Jackson [resensie]
deur Marius Nel
’n Verslaggewer se verrassende perspektief op die lewe van Jesus
Neels Jackson het bekendheid verwerf as Beeld-joernalis wat oor godsdienssake verslag gedoen het en hy is intussen as redakteur van die Kerkbode aangestel. Sy verslaggewing was dikwels van diepgaande aard wat sy teologiese en geestelike insig verraai het.
En nou het hy ’n boek oor Johannes geskryf, die joernalis wat uit die siniese wêreld van die koerante kom en wie se paadjie in Galilea en Judea, en veral rondom die tempel Jesus s’n kruis. Mense stroom agter Jesus aan en die joernalis ruik ’n sensasionele storie. Hierdie Jesus wat skares trek, bots ook voortdurend met die magstrukture van die Joodse godsdienstige en politieke wêreld. En terwyl Johannes stories opskryf, wonder hy deurentyd wie Jesus werklik is.
Tussen die verhaal deur kry jy ook die koerantberigte te lees met al die sensasionele inligting — van wonderwerke en intriges en botsings en mense wie se lewens verander.
Die vraag wie Jesus is, veroorsaak vandag steeds groot meningsverskille, selfs tussen Christene. Die vraag het die vroegste kerk tot verskeie skeurings gelei en vandag vind teoloë hulle op ’n breë kontinuum van dié wat Hom as ’n besondere mens beskou tot dié wat Hom as God self sien.
Vanuit ’n moderne koerantkantoor met al die hulpmiddele wat daar beskikbaar is, kry jy ’n nuwe blik op die wêreld waarin Jesus geleef het. En Neels se enigste doel is om die vraag aan die orde te bring: wie is Jesus? Want hy wil graag sy leser met die vraag konfronteer: Wie is Jesus vir jou? Watter verskil maak Hy in jou lewe?
Die boek begin met: “Hel, dis jammer jy het hom gemis.” Die nuusredakteur kyk met klaarblyklike genoegdoening na die oggend se koerant voor hom op sy lessenaar, ’n glimlag huiwerend om die mondhoeke. “Maar dit bly ’n lekker storie, die baba wat so tussen die bokdrolletjies gebore is.” Hy kyk op na die verslaggewer wat voor die lessenaar staan: “Eintlik ’n baie lekker storie. Die nuus op bladsy een is maar pap, maar hierdie storie is ’n loeloe.”
Die koerant is die Jerusalem Gazette en die verslaggewer wat nie mooi weet wat ’n loeloe is nie is ’n jongman wat op die geval van Jesus van Nasaret geplaas is.
’n Woordkunstenaar wat sy Bybel ken, kennis dra van die moderne teologiese debat oor wie Jesus is en vanuit sy eie getuienis ’n boek skryf wat lesers met die belangrikste vraag konfronteer wat, glo ek, ’n mens op aarde kan beantwoord. ’n Ideale kombinasie vir ’n trefferboek waaroor na my mening nog meer gehoor gaan word. Ek het elke bladsy van Neels se boek nie net geniet nie maar as ’n leerervaring ondervind.