top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Om te oordeel of nie te oordeel nie...

deur Johan Smith

In ’n tyd in Suid-Afrika waar die een prominente hofsaak na die ander gebeur word ons almal gedurig gekonfronteer met die hamertjie in die regter se hand. As hy of sy met daardie hamertjie slaan is die uitspraak finaal. Oordeel lê by hom of haar nadat alle beskikbare getuienis van die aanklaer en die verdediging in ag geneem is.

Tog snaaks hoe die gewone mens dink hy of sy het ook die reg om die hamertjie in die hand te neem en na hartelus te swaai en slaan in die rigting van ’n ieder en ’n elk. Tog vreemd hoe gou gelowiges met geheueverlies geslaan word en hulle vergeet wat is die werklike verskil tussen hulle en die “buite die gemeente”.

Efesiërs 2 vers 8 herinner my elke dag dat wie en wat ek is uitsluitlik, eksklusief en slegs genade is — ’n geskenk wat ek onverdiend ontvang het:

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Ja, ons het die grootste geskenk ooit van God ontvang. Dis wat my en jou lewe verander het. Dis wat maak dat ons kan leef met hoop en verwagting. Wie ek nou is, het niks met my eie goedheid of goeie werke te doen nie. Dit het niks met my talente of ywer te doen nie. Nee, dis net genade en dis ’n geskenk uit God se hand.

Daarom is Romeine 2 vers 1 so reguit en duidelik vir elke gelowige:

Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander veroordeel, wie jy ookal is. Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself. Want jy wat veroordeel doen dieselfde dinge.

Is die tyd nie NOU dat ons die hamertjie moet neerlê nie? Is die uurglas nie amper leeg geloop nie — dis tyd om op te hou om mense te veroordeel en eerder onvoorwaardelik lief te hê. Kom ons wys vir die “buite die gemeente” hoe lyk die liefde en aanvaarding van Jesus. Kom ons demonstreer vir hulle liefde en die gemeenskap van gelowiges eerder as om hulle met Bybelversies te gooi of met die Bybel in die hand te berispe.

bottom of page