’n Reis na die tweede helfte van die lewe
deur Johan Beukes
“What is a normal goal to a young person becomes a neurotic hindrance in old age.” — Carl Jung
“No wise person ever wanted to be younger.” — Native American Aphorism
’n Reis na die tweede helfte van die lewe (Post 35) wag op ons almal.
Dit is egter ’n tragedie dat so min mense hierdie reis aandurf. Hierdie tragedie vind plaas ten spyte van ons eie ervaringe van mense wat reeds hierdie pad gestap het asook mense wat “vasgehaak” het in die eerste helfte van die lewe asook duidelike uitnodigings vanuit die Bybel self. Daar is egter ’n aanloklike belofte van hoop hierin opgesluit.
Dit wil voorkom asof daar twee basis-take aan elke mens toegeken word. Die eerste taak is ’n sterk houer (container) of identiteit te vorm en die tweede taak is gefokus daarop om hierdie houer te vul met die gepaste inhoud en goedere. Ons leef egter in ’n eerste-helfte-van-die-lewe kultuur waarbinne die lewe hoofsaaklik gefokus is op die vestiging van ’n identiteit, koop van ’n huis, bou van verhoudings en ’n platform vir onsself om sodoende suksesvol te oorleef. Vrae soos; “Wat maak my spesiaal”, “Hoe kan ek myself aan die lewe hou?” en “Saam met wie moet ek die lewe spandeer?” is kernvrae. Op hierdie roete is daar egter baie hartseer en stampe en stote van die lewe self. Hierdie ervarings (ontnugteringe) raak meestal die brug waaroor ons na die tweede helfte van die lewe stap of struikel. In die tweede helfte van die lewe neem ons weer na ’n vraag wat wil weet “waaroor gaan hierdie lewe nou eintlik” of soos Mary Oliver dit stel “What is it you plan to do with your one wild and precious life?” In die Bybel sien ons byvoorbeeld dat Jakob se stoei en verwonding nodig is om Israel te word (Gen 32:26-32).
Die probleem is dat die ego nie van hierdie “vernedering”, verandering of dood van die vorige self (verwonding) hou nie. Die ego is verbind aan die status quo en sal enige iets doen om iemand in die verlede vasgevang te hou. 2 Kor 12:10 daag die ego uit met die woorde “Wanneer ek swak is, is ek sterk.”
Daar is al baie geskryf oor hoe om oor hierdie brug te loop. Van die bekendste fases, van hierdie oorgang word in die Hero’s Journey soos volg uitgebeeld:
Jy bevind jouself in ’n gemaksone. Jy ervaar ’n ongemaklikheid (krapperigheid, kognitiewe dissonansie, uitnodiging, lyding, innerlike stem) wat jou nooi om die gemaksone te verlaat. Sodra jy die gemaksone verlaat “kom jy agter” waaroor jou ongemaklikheid eintlik gaan. Wanneer jy dan die oorsaak van hierdie ongemaklikheid omarm vind jy jou siel wat vir jou ’n aanduiding gee van waaroor jou lewe eintlik gaan. Met hierdie nuutgevonde jy keer jy met hope lewensenergie terug na waar jy begin het — jy kyk egter nou met splinternuwe oë na dieselfde situasie.
Kom ons kyk prakties daarna:
Daar is baie mense wat slegs biologies na hierdie ervaring kyk en sal dit vereenvoudig tot “menopouse”; ander sal weer suiwer psigologies daarna kyk en interpreteer as ’n “depressiewe fase” in my lewe. Wanneer jy die geestelike bril opsit kan dit ook gesien en beleef word as die ontdekking en aanvaarding van die ware ek.
“The self-same moment that we find God in ourselves, we also find ourselves inside God.” — Teresa of Avila
“Many of us learn to do the ‘survival dance’, but we never get to our actual ‘sacred dance’.” — Bill Plotkin