Wees vrygewig met komplimente
deur Helena Smith
Benjamin West, ’n bekende skilder, sê hy het eendag toe hy ’n klein seuntjie was, verf gevat en ’n prentjie van sy sussie begin skilder. Sommer gou-gou was dit ’n groot gemors. Toe sy ma die skildery sien, het sy dit opgetel, Benjamin geprys en hom ’n soen gegee. Later in lewe sy het hy gese: “Daardie soen het van my ’n skilder gemaak.” Een kompliment van sy ma het hom laat glo dat hy baie talent het.
Ons sien sommer gou ander mense se foute raak. Dink maar hoe maklik ons ander mense kritiseer. Veral mense naby aan ons, soos ons mans en kinders. In Spreuke 12 lees ons: “’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie.” Hou jy nie ook daarvan om ’n kompliment te kry nie? Ek is mal daaroor om komplimente te kry en kan ’n hele dag lank teer op een goeie kompliment!
In een van my klasse by die skool is ’n dogtertjie wat regtig nie baie talentvol is nie. Sy is ook nie regtig mooi nie. Sy is egter baie hulpvaardig en eendag sê ek vir haar dat sy die fluksste kind in die hele skool is. Die gesiggie het geblom en van daardie dag af wou sy nog meer help. Ek het beskaamd gestaan, omdat my woorde as onderwyseres, so ’n invloed op ’n kind het en vir ’n paar dae lank sleg gevoel omdat ek al so baie kanse deur my vingers laat glip het om vir kinders komplimente te gee. Ek het agtergekom dat hoewel ek daarvan hou om komplimente te ontvang, ek maar taamlik suinig is met die uitdeel daarvan. Ek maak nou ’n punt daarvan om vir mense komplimente te gee. Nie “fake” komplimente nie, net iets wat ek uit my hart bedoel. Dit is goed om te sien dat mooi woorde krag het en dat mooi woorde mense bemoedig.
Ek daag jou uit om môre Komplimente dag te hou. Deel vryelik komplimente uit en kyk hoe jou woorde mense bemoedig!