top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Om Jesus te volg deur Stephan Joubert en Johan Smith [resensie]

deur Marius Nel

Wat beteken dit in die praktyk om ’n dissipel van Jesus te wees? Moet jy eers leer voor jy daarvoor kwalifiseer? Moet jy voltyds in diens van die kerk staan?

Nee, natuurlik is elke mens wat deur God se genade gered is ’n dissipel van Jesus, iemand wat agter Jesus aanloop. Dit beteken dat elkeen van ons voltyds in diens van die Here staan. Ons kry ons marching orders immers van Hom.

Om ’n dissipel te wees, beteken dat jy deur Jesus self geroep is, dat jy in ’n lewende verhouding met Hom staan, dat jy ’n voltydse commitment gemaak het om Hom in alles te volg, dat jy ’n alternatiewe manier van lewe as dienaar van die Here volg saam met ander gelowiges, dat jou lewe oorloop van opofferende liefde vir God en ander mense, dat jy aan Hom gehoorsaam is, dat jy ander mense dien, dat jy ’n kruis dra wat jou agter Jesus aan laat loop, dat jy nederig lewe, dat jy aanhoudend groei en vrug dra en dat jou lewe vol vreugde en vrugdra in die teenwoordigheid van die Here is.

Albei skrywers is ervare as kommunikeerders en het ook reeds talle boeke gepubliseer, en hulle is ook toegerus om met die Bybel in die hand te praat. En wanneer hulle jou vertel van Barnabas en Gideon, Moses en Paulus kom jy agter wat dit in die praktyk beteken om agter Jesus aan te loop.

Dissipels is warmhartig en barmhartig in ’n arm en yskoue wêreld omdat hulle ’n nuwe lewensuitkyk het en doelgerig soos hulle Meester lewe. So ’n leefwyse is nie goedkoop nie want ons droom groot. Ons vergewe en lewe in vrede. Ons dien en ons doen. En ons leef daagliks met feesklere.

’n Heerlike studieboek wat jou stiltetyd gaan verryk of jou selgroep gaan laat uitroep van opgewondenheid om vir die Here te leef. Indien jy vanjaar slegs een Bybelstudiehulpmiddel gaan gebruik, is dié kort maar volgepakte boekie na my mening een van die bestes om te oorweeg.

bottom of page