Geheime
deur Helena van Emmenis
Op die oomblik is ek die onwillige bewaarder van ’n hele paar van my vriendinne se geheime. Geheime waarvoor ek nie gevra het nie en wat my ongemaklik laat voel. Ongemaklik omdat ek nie weet wanneer iets op ’n onbewaakte oomblik gaan uitglip nie. Ongemaklik ook omdat daar morele implikasies is wat ek nie juis weet hoe om te hanteer nie.
Volgens die woordeboek is ’n geheim iets wat slegs aan een of ’n paar persone bekend is, wat verborge is, duister en stilswygend.
Die probleem is ek het nie net geluister na my vriendinne se geheime nie, ek deel ook in hul geheime. Ek beleef spanning en op hierdie oomblik wens ek dat ek niks geweet het nie.
Salamo sê in Spreuke 11 vers 13 dat “’n betroubare mens geheime bewaar”. Sê vrouens vir my hierdie intense geheime omdat hulle voel ek is betroubaar?
Daar is tog omstandighede waarin dit tot jou vriende se beswil sal wees as jy hul geheime oorvertel. As so ’n geheim hul lewe benadeel, byvoorbeeld die persoon het ’n pilafhanklikheid, moet dit met iemand in hulle ondersteuningsisteem bespreek word.
Dis nie net ons vrouens wat swaar kry met geheime nie. Ons regering het baie inligting wat geklassifiseer is, en tog as jy die internet besoek is baie van die inligting met al die detail beskikbaar. Die hoofnuusmakers in die wêreld is fluitjieblasers. Hulle kry selfs asiel in ander lande.
Ons almal bewaar soms ander mense se geheime — nie altyd baie suksesvol nie. Sommige van ons bewaar ook verskriklike geheime wat ons diep begrawe het, soos molestering uit ons kinderjare.
Die laaste maand het ons gesien hoe mans vir 50 jaar ’n geheim bewaar oor hul beweerde molestering as kinderhuis kinders en die geweldige trauma van die gemeenskap as die geheim uitlek.
Moenie jou geheim aan iemand wat jou nie verstaan of veroordelend is, toevertrou nie. Vertel iemand wat nuwe insigte kan bring en nie deur die geheim mag oor jou verkry nie. Daar is ’n Portugese spreekwoord wat sê: “Vertel jou vriend ’n leuen. As hy dit geheim hou, vertel hom die waarheid.” Maak seker dat niemand jou geheime gaan oorvertel nie.
Voordat jy volgende keer jou geheime in ’n vriendin se oor fluister, dink aan die Franse spreekwoord: “Niks is so ’n swaar las soos ’n geheim nie.”