Gedagtes, gedagtes...
deur Johan Smith
Ek lees so tydjie terug die volgende statistiek raak in ‘n boek:
Die gemiddelde mens dink 60 000 gedagtes per dag. Hiervan is 98% dieselfde as gister en 80% daarvan is negatief. Met dit in gedagte, kom die volgende gedagte toe by my op: ewe skielik verstaan ek die hele konsep van “the battlefield of the mind” baie beter. Ewe skielik maak dit vir my baie meer sin. Daar is ‘n oorlog tussen my ore en dis belangrik dat ek die oorlog moet wen.
Logika skop in en ek besef dat as ek werklik wil verander, dit in my gedagtewêreld gaan moet begin. Wat help dit ek dink elke dag dieselfde goed en by verre die meeste daarvan is nog negatief ook? My dade gaan mos korrespondeer hiermee. Ek gaan elke dag dieselfde doen omdat ek elke dag dieselfde dink.
Skielik kry Romeine 12 vers 2 nuwe betekenis:
“... maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”
As jy werklik wil verander, wil transformeer, dan is jou eie fokus op jou gedagtewêreld baie belangrik. Dan is dit van kardinale belang dat jy ten diepste bewus sal wees van die belangrikheid van wat jy toelaat in jou gedagtewêreld.
Dit is verseker ook hoekom die gedeelte in Efesiërs 6 oor die aantrek van die wapenrusting praat van “waak en bid”. Ja, wees waaksaam met dit wat jy in jou kop en gedagtes toelaat, want werklike diep transformasie in jou lewe hang daarvan af.
Dit gaan oor baie meer as net “positive thinking”. Dit gaan oor gedagtes van waarheid. Dit gaan daaroor om die Woord te ken en in jou gedagtewêreld te intergreer. Doen moeite om God se Woord te memoriseer. Doen moeite om God se Woord te oordink. Dit is die pad na ware vryheid en ware transformasie in jou lewe.