top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Verkeerd, maar...

deur Stephan Joubert

Die Hollandse naam vir Caffe Latte is Koffie Verkeerd. Dit klink op my Afrikaanse oor asof iemand in Nederland gedink het mens maak nie koffie op hierdie manier nie. In elk geval, om verkeerd te wees, sit nie maklik aan ons lywe nie. Hoeveel keer het jy al iemand hoor sê: “ek was verkeerd”? Hoogstens sal jy iets hoor soos: “ek was verkeerd, maar...”.

Ons weet al te goed wat verkeerd is met ander mense. Ure lank kan ons hulle sondes agter hulle rug namens hulle bely! Maar nooit is onsself heeltemal verkeerd nie, al is ons! Ons is eintlik net altyd ’n bietjie verkeerd... want ons het gewoonlik ’n goeie verskoning hiervoor. Dalk is dit hoekom ons so sukkel om regtig voor God te buig. Ek praat nie van ’n hoflike kniebuiging op Sondae in God se rigting nie. Dit doen die meeste mense gemaklik. Ek praat van daardie daaglikse buig voor God met nederige harte soos wat 1 Petrus 5 sê.

Ons wil nie aldag vir God sê: “ek is verkeerd” sonder enige “maar’s” nie. Nog minder wil ons onsself volledig aan Hom onderwerp. Al sing ons in die kerk: “my al is op die altaar,” of: “niks noem ek my eie meer,” vat ons dit graag terug as ons by die kerk uitstap. Feit is, die Here weet alles oor ons, vanaf ons halfhartige berou tot ons middelmatige offers in Sy diens. Hy ken ons deur en deur. Maar gelukkig het God ook goeie medisyne vir ons flou verkeerd-wees en ewe flou oorgawes. Hy noem dit vergifnis en genade. Vergifnis, wanneer jy in Jesus se Naam by die hemelse deur opdaag, is volledig. Net so is genade gelyk aan ’n daaglikse oorbegin en voorbegin in sy Naam. Gryp dit vandag met oorgawe aan. Dan sal jy die regte lewe tref met ’n lewe van impak in sy Naam.

bottom of page