top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Bemeester 5 feite, dan maak jou lewe sin

deur Stephan Joubert

Ons kort dringend ’n tweede naïwiteit. Ons ontnugterings met die lewe se pynlike sekerhede én onsekerhede moet geboorte gee aan ’n tweede naïwiteit wat, in die taal van Paul Ricoeur (The Symbolism of Evil, 1967), gebou is op ’n nadenkende, wyse manier van leef. Dit gebeur eers as ons deur die rivier van kompleksiteit, pyn en ontnugtering geswem het en aan die anderkant vrede maak met onsekerheid, maar veral met God. Dan kan ons weer kinderlik opgewonde raak oor ’n vars, weldeurdagte geloof in Hom.

Wie weet, dalk moet ons ook saam met Richard Rohr (Adam’s Return: The Five Promises of Male Initiation, 2004) deur ’n soort inisiasie-proses beweeg om te sterf aan onsself sodat ons weer kan begin leef voor God. Vroue en mans inkluis moet ’n doelbewuste leefkeuse maak om deur ’n seisoen van verlies en afskeid te reis onderweg na waters van vrede.

Richard Rohr identifiseer vyf stellings of lewenswyshede wat ons moet bemeester ten einde vry te raak van ons lewenslange verslawing aan onsself:

1. “Life is hard.” Rohr sê dat as ons nie geleer het om ons pyn en verlies in die oog te kyk nie, sal ons lewens toenemend vasval in bitterheid, plesierjagtogte en blaamverskuiwing. Maar wanneer ons te midde van ons swaarkry ervaar Jesus se las is steeds lig en sy juk is sag, dan skakel daar ’n hemelse lig iewers aan.

2. “You are not important.” Daar is ’n vervaldatum op status en ’n rakleeftyd vir sukses. Ons waarde in die oë van die samelewing is dikwels minimaal. Tog weet diegene wat op reis is agter Jesus aan dat hulle name reeds in die hemel opgeskryf is.

3. “Your life is not about yourself.” Iewers word ons almal uit die hoofrol van die lewe geban. Daarom onthou pelgrims op die Here se pad dat dit nie meer onsself is wat leef nie, maar Christus binne in ons. Hy alleen is ons hoop! Daarom kan ons buite onsself begin leef.

4. “You are not in control.” Selfhelp-ghoeroes moedig mense voortdurend aan om beheer oor hulle lewens te neem. Tog is die lewe onvoorspelbaar. Dis buite beheer. Jesusnavolgers ken egter ’n Hemelse Vader wat vir die blomme en die veldgras sorg en wat vandag se manna telkens by vandag aflewer.

5. “You are going to die.” Die dood is die laaste stilhouplek aan hierdie kant van die graf. Maar die hoop van Jesus se mense is dat die dood se bluf reeds geroep is. Christus hou die sleutels van dood en doderyk styf in sy hand.

Te midde van vele Cul de Sac strate vol ontnugtering, werkloosheid, armoede en misdaad kronkel ’n stil paadjie van hemelse eenvoud koersvas deur die lewe. Wyse reisigers wat dit raaksien verwissel haastig van roete. Hulle weet immers hulle het uit die bloute op daardie hemelse skat in die saailand afgekom.

bottom of page