Switch on Your Brain deur Dr. Caroline Leaf [resensie]
deur Marius Nel
Wat in ’n mens se brein gebeur en hoe jy die prestasie van jou brein kan verbeter, het ’n onderwerp geword waaroor moderne mense graag lees en gesels. En daarom verskyn daar voortdurend boeke en artikels wat die onderwerp aanspreek en mense inlig, en debat veroorsaak. Dié boek van die kommunikasie-patoloog en oudioloog val in die klas van die wetenskap van kognitiewe breinwetenskap, ’n onderwerp waarin sy al vir digby dertig jaar haar ingrawe en waaroor sy al veel gepubliseer het.
Die boek het breedweg twee doelstellings: om jou te leer hoe om jou brein te ontgif en hoe om jou brein aan te skakel.
Wat die boek anders maak as ander boeke oor die onderwerp is dat dit gebaseer is op die bevindinge van neurowetenskap maar deurgaans Bybelse riglyne en beginsels toepas. Daarom hoor jy dat die belangrike Bybelse beginsel is dat ’n mens beheer van jou denke, jou gedagtes moet neem en dit moet onderwerp aan wat God se Woord jou leer, wat sy wil is. Dit is wat jy dínk wat in werklikheid jou brein verander.
’n Gelowige moet besef: jy is nie ’n slagoffer nie. Jou biologie bepaal nie wat jy is en dink nie; jy beheer jou biologie. Jy bepaal self jou reaksies. Jy het die keuse. Wat jy dink, produseer die staat van jou denke. Wil jy jou denke in ’n positiewe rigting laat gaan, leer dan doelbewus aan om positief te dink. En dis belangrik, want wat jy sê en doen is gebaseer op wat jy in jou denke ingebou het. Skryf daarom vir jouself Filippense 4:8 en Romeine 12:2 voor!
Gelukkig het jy ook multiple-perspective advantage, wat jou in staat stel om dinge vanuit meer as een hoek of perspektief te sien. Jou keuses beïnvloed natuurlik ook die mense om jou.
Jy is nie ’n slagoffer van jou voorouers se slegte gewoontes nie; jy kan ook daaroor ’n keuse maak. Jou voorouers se keuses kan jou predisponeer tot slegte keuses maar jy bepaal self jou bestemming.
Regdeur die boek kombineer die skrywer die resultate van die wetenskap oor die brein en geloof, en gebruik ’n skryfstyl dat enigeen wat aandagtig lees die argumente kan volg. Geen wonder dat die skrywer ook ’n gewilde spreker is en aan talle geselsprogramme deelneem nie.
As jy belang stel in jou brein en inligting daaroor vanuit die standpunt van geloof wil kry, is dié boek vir jou!