Sê nou ons onthou verkeerd... en verwoes ander se lewens?
deur Stephan Joubert
Toe ek lees hoe ’n paar indiwidue die sluier lig oor wat een of ander bekende figuur jare gelede glo aan hulle sou gedoen het, toe wonder ek sommer oor ’n paar dinge:
Hoekom loop mense vir jare met geheime oor ander rond en besluit om dit uit die bloute te deel met die media?
Is herinneringe van dit wat ander jou aangedoen het altyd betroubaar? Of kan mens jou verbeel?
Met hierdie vrae in my agterkop onthou ek skielik die verhaal van een leraar wat jare gelede amper sy werk verloor het omdat iemand stories opgemaak het dat hy immorele suggesties aan haar sou gemaak het. Toe hy op die punt was om te bedank, erken die ander persoon sy het die storie opgemaak om hom seer te maak. Aan die ander kant is daar soortgelyke verhale wat die waarheid blyk te gewees het. Dus die vrae: hoe onthou ons? en: onthou ons reg?
Toe lees ek die interessante artikel van die wêreldberoemde neureowetenskaplike, Oliver Sachs, getiteld: Speak Memory (The New York Review of Books, 21 Februarie 2013). Dit is ’n fassinerende artikel waarin Sachs vertel hoedat hyself en vele ander, insluitend bekendes soos Ronald Reagan, George Harrison van die Beatles, Hellen Keller, en nog ’n Amerikaanse president, Coleridge, bepaalde geheue-distorsies beleef het. In Sachs se geval het hy stories oor bomaanvalle wat hy as kind tydens die 2de Wêreldoorlog sou beleef het oorvertel asof hy persoonlik aanwesig was, net om later uit te vind hy was nie teenwoordig een keer toe ’n bom naby hul huis geval het nie. Maar ’n brief waarin sy broer die aanval in groot detail beskryf het, het Sachs as jong kind so aangegryp dat dit sy eie storie en sy eie belewenis geword het. Daar was geen twyfel by hom dat hy teenwoordig was nie, totdat sy broer aan hom verduidelik het dit was nie die geval nie.
Met Harrison was plagiaat egter ter sprake. Met name is Harrison skuldig bevind hieraan toe hy die liedjie “My Sweet Lord” in 1970 geskryf het. Dit het direkte ooreenkomste met die 1962 lied “You’re so fine” van Ronald Mack. Maar in Harrison, en vroeër in Helen Keller, se gevalle was dit eerder ’n toestand wat Sachs noem: kryptomnesia. Dit is die onbewuste en nie-intensionele internalisering of eie maak van ander se materiaal sonder bose intensies. Beide Keller en Harrison het hulleself met ander woorde so ingeleef in die materiaal tot hulle beskikking dat dit deel van hulle interne menswees geword het. Selfs ’n leuenverklikkertoets sou hulle nie eens uitvang nie, want daar was geen bewussyn dat dit iemand anders se materiaal was nie.
Sachs skryf: “We, as human beings, are landed with memory systems that have fallibilities, frailties, and imperfections — but also great flexibility and creativity. Confusion over sources or indifference to them can be a paradoxical strength: if we could tag the sources of all our knowledge, we would be overwhelmed with often irrelevant information. Indifference to source allows us to assimilate what we read, what we are told, what others say and think and write and paint, as intensely and richly as if they were primary experiences. It allows us to see and hear with other eyes and ears, to enter into other minds, to assimilate the art and science and religion of the whole culture, to enter into and contribute to the common mind, the general commonwealth of knowledge. This sort of sharing and participation, this communion, would not be possible if all our knowledge, our memories, were tagged and identified, seen as private, exclusively ours. Memory is dialogic and arises not only from direct experience but from the intercourse of many minds.”
Toe ek hierdie artikel lees, het ek van voor af besef ek moet versigtig met my “memories” moet omgaan. Ek onthou selektief. En subjektief. Soms onthou ek dinge dalk wat ek nie eens beleef het nie. Daarom dat ek ’n paar eenvoudige beginsels vir myself uitgestip het:
Ek hersirkuleer nie negatiewe stories oor ander mense nie. Dan hou ek daardie stories lewend in my kop. Die Here verwag van my om sulke boeke toe te maak.
Ek moedig ander aan om nie negatiewe stories oor ander voetstoots te glo of oor te vertel nie.
As ek regtig twyfel oor ’n storie se betroubaarheid, probeer ek die feite uitklaar by die bron van oorsprong. Anders hou ek my mond!