Karakter versus reputasie
deur Johan Smith
Is jy ook een van daardie getroue harde werksters wat heeldag en aldag ander mense probeer plesier? Gaan baie van jou tyd en energie daarin om ander mense te beïndruk? Probeer jy die hele tyd om ander mense se respek te verdien? As jy mooi hieroor nadink, werk jy baie hard aan ’n reputasie, want ’n reputasie is wat ander van jou dink. Wat vir God egter baie belangriker is, is wie jy werklik is en dit is jou karakter.
Die bekende geestelike leier, Craig Groeschel skryf so mooi oor sy eie lewe:
To learn who I am, I’ve had to learn who I am not.
You are not what others think about you.
You are not your past.
You are not what you did.
You are who God says you are.
Hoeveel van ons laat nie toe dat die wêreld ons identiteit bepaal nie? Hoeveel van ons voel nie elke dag miserabel en ’n mislukking omdat jy nie aan ander mense se standaarde voldoen nie? Hoeveel van ons word nie grootliks deur ons verlede gedefinieer en alles wat daar skeefgeloop het nie?
Jy is geskape na die beeld van God.
Jy is deur God in die moederskoot gevorm en sorgvuldig aanmekaar geweef.
In Christus is jy vrygespreek.
In Christus is jy ’n nuwe mens.
In Christus is jy regverdig.
In Christus is jy deel van God se huisgesin.
In Christus is jy meer as oorwinnaar.
In Christus is jy verteenwoordiger van God.
Dit is wie jy is. Dit is jou karakter en dit is wat saakmaak vir God.
Leer in die lewe om minder bekommerd te wees oor jou reputasie. Leer om jou energie nie daarin te sit om ander mense te beïndruk en te plesier nie. Vind jou vrede en uiteindelik jou vreugde in wat God oor jou sê. Dit sal jou waarlik vry maak.