Enkelouerskap: Die vrae wat pla
deur Felicia Lategan
Om die realiteit van egskeiding, alleenwees en mislukking in die oë te staar, is ’n worstelstryd. Daar word selfs gesê dat egskeiding erger as dood ervaar kan word. Ek was een van vele wat so seisoen moes trotseer en deel graag ’n blik op vrae wat al gevra is:
Het jy foute gemaak in die proses?
Beslis ja:
Om te glo ek “mag nie vou nie” en om nie die hulp wat soms aangebied was, te aanvaar nie.
Om myself te oortuig ek kan nie en weet nie hoe nie.
Ek het die “gif” gedrink (bitterheid en seer) en gehoop iemand anders gaan dood. Dit het slegs my siel en menswees vergiftig. Om elke dag daarin te marineer is nie die oplossing nie.
Praktiese raad oor enkelouerskap
Al lyk dit nou hóé onmoontlik, móét jy tyd vir jouself maak. Mens voel skuldig omdat jy alleen is, soveel werk en allerlei dinge moet balanseer. Maar as jy in jou kind se spasie inbeweeg en daar kan leer ontspan, kan jy reeds wen met “selftyd”.
Hanteer elke dag in grepe; hoe eet jy ’n olifant...?
Staan 10 minute vroeër op en skryf jou gedagtes, of selfs ’n kort gebed in ’n joernaal. Dis terapie!
Ek het eenmaal per week my seuntjie na Spur geneem, al kon ek net ’n bordjie “chips” bekostig. Ons was saam en hy was gelukkig. Hy het drukkies kom haal en in die speelruimte gaan speel in daardie uur wat ek kon boeklees.
Gaan gimnasium toe, maak gebruik van hul diens om na jou kind te kyk. Fokus vir ’n wyle op jou liggaam, asemhaling en ritme; dit maak jou ontspanne, juis wat jou kind benodig.
Haal asem, letterlik! Doen dit met opset. Jy leef, jy’s nog hier, voel jou asem.
Konnekteer met ander enkelouers, leer iemand ken wat ook dieselfde uitdagings het. Jul kan mekaar ondersteun met bv. inkopie-beurte.
Aanvaar dat die realiteit juis dit is; hierdie ding hét gebeur. Dit moet verteer word, maar beteken nie dat dit pynloos is nie.
Swaartye hét vervaldatums; dit voel nie so nie, maar dit het. Geen krisis kan vir altyd, 24-uur aanhou nie. Elke fase moet uitspeel — dit gaan in elk geval.
Plak positiewe pitkos of teksverse op jou spieël of yskas. Die psige is wonderlik en “sien” dit raak al voel jy sinies. Al manier hoe negatiewe denke en seer gaan kwyn, is deur dit nie te voed nie.
Wat het God beteken in hierdie proses?
My siel het weggekruip; ek het God selfs geïgnoreer maar weer stelselmatig by stilword uitgekom. God bly God. Hy bly in beheer en sal altyd wees. Die keuses wat uitgeoefen is, is nie sy skuld nie. Gooi jou seer woorde in die lug, roep en vra! Jy sal wel met refleksie besef dat jy gehoor is.
Laaste woord
Die inhoud van hierdie artikel word nie ligtelik gedeel nie; dit was ’n pynlike en verdwaalde tyd in my lewe. Erken hierdie tydperk, wees genadig teenoor jouself. Ek weet dat jy hierdie fase kan deurkom. As ek kon, gáán jy beslis!
“Yesterday ended last night.” God se genade wag reeds by more!