Sielsgedagtes deur Milanie Vosloo [resensie]
deur Marius Nel
Milanie Vosloo se boeke is gewild onder vrouens en so ook haar rubriek in die tydskrif Lééf, “Siel van ’n vrou.” En met rede: sy ken vrouens en hulle behoeftes.
In Sielsgedagtes kry jy dagstukkies wat kort genoeg is dat selfs die besige vrou en ma tyd gaan vind om dit te lees, maar met inhoud wat sy saam met haar deur die dag gaan neem.
Dit dagstukkie begin met ’n teksverwysing en die teksvers uitgedruk, dan ’n kort stukkie op een bladsy, gevolg deur ’n gebed en enkele verdere Skrifverwysings.
Die temas máák dié boek: Wanneer jy broos en hartseer voel; Wanneer jy voel of jy wil weghardloop; Wanneer jy stoei met die waarheid; Wanneer jy leeg voel; Wanneer die wêreld negatief lyk, ensovoorts. Lesers gaan in alle waarskynlikheid nie die dagstukkie chronologies lees nie, maar eerder na ’n tema soek wat by hulle omstandighede pas. En dit maak die boek selfs nog meer bruikbaar.
Kom ek gebruik ’n voorbeeld: Wanneer ek seergekry het. Die Skrifgedeelte is Romeine 12:21 wat lui: Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom. Milanie skryf dan dat seerkry soms so erg is dat ons nie daaroor kan of wil praat nie, maar daar is Één wat sonder-woorde-verstaan en sonder-verwyt ons harte hoor: Die Gees van God in ons. Hy is male sonder tal vertrap, en Hy ken jou hart. “Sit maar net in sy teenwoordigheid. Hy sal jou troos.” Deel van die gebed lui dan ook: Sal U asseblief hier by my kom sit? My trane met u deernis afdroog? En so tussen die snikke deur, sal U dan saggies in my oor u soort troos fluister?
’n Ideale geskenk vir ’n vrou vir wie ’n mens omgee is dié boek. Jy kan dit met vrymoedigheid gee; enige vrou gaan hierin bemoediging en troos vind.