top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

It infuriates me to be wrong when I know I’m right.

deur Stephan Joubert

Dit was die bekende dramaturg Molière (1622-1673) wat iewers gesê het: “It infuriates me to be wrong when I know I’m right.” Nie een van ons hou daarvan om verkeerd te wees nie. Ons moet altyd reg wees. Boonop wil ons graag ander mense verkeerd bewys. Die “hoogtepunt” van regwees is wanneer ons leedvermakering daardie gevleuelde woorde kwytraak: “ek het jou mos gesê...!” Dan het ons ses-stroop gewen. Die ander persoon of groep is dan behoorlik uitgehaal. Tog is daar ‘n duur prys te betaal vir sulke “reg wees.” Dit maak ons arrogant. Dit verbreek verhoudings. En as ek dit nie mis het nie, dan is die Here se soort waarheid altyd verhoudingsmatig. Dit herstel verhoudings eerder as om dit te verbreek. Dit bou op eerder as om af te breek.

Van verhoudings gepraat ek hoor onlangs juis hoe iemand vertel van ‘n ander persoon na wie hy regtig baie opsien. Toe voeg hy by: “ek hou die meeste daarvan om myself te wees wanneer ek in sy geselskap is.” Bedoelende, daardie persoon laat hom veilig voel. Miskien is dit die grootste komplement wat ons ander mense kan aandoen dat hulle geborge voel in ons geselskap. Terloops, dis presies wat die Here met sy mense doen. Hy noem ons sy kinders. Hy tel al die hare op ons koppe. Hy graveer sy Naam op ons voorkoppe en skryf ons name op in die boek van die lewe. Die Here is nie gedurig op foutvind-sessies met ons besig nie. Daarom dat ons sommer net stil-tevrede by Hom kan wees, selfs as die stormwinde rondom ons huil.En daarom dat ons ander mense altyd ook met respek kan hanteer.

bottom of page