My troudag: 'n storie van hoop
Deur Kobie Erasmus
Ek het nooit prentjies uitgesny en plakboekke gemaak van my droom troue nie, maar van jongs af was daar een gebed wat ek gereeld vir my troudag gebid het: Dat die Here my pa sal spaar vir my spesiale dag.
As graad 1 dogtertjie het ek na my maats se pa’s gekyk en gesien dat hulle baie jonger was as myne. Wanneer maatjies hartseer vertel dat ‘n oupa of ouma oorlede is het ek dan ‘n nare gevoel gekry. Want my pa was ook al ‘n oupa. Sê nou maar net…
In Desember 2010 het ek op die drumpel van trou my verlowing - en ses jaar lange verhouding verbreek. Dit was ‘n moeilike tyd en vir twee jaar daarna was ek enkel en het ek vrede gemaak met die sterk moontlikheid dat my pa nie my troudag sal sien nie.
Tog is die Here se genade en liefde so groot. In Maart 2013, na net ‘n paar maande saam, het ek verloof geraak aan my wonderlike man. Die 16de November 2013 is vasgemaak vir ons groot dag en ek sê vir die Here dankie vir hierdie tweede kans – my pa sou ten spyte van alles steeds daar wees om my by die kansel weg te gee. In Augustus het my pa skielik agteruit begin gaan en ons het vermoed dat die kanker wat in remissie was, terug is. In Oktober was dit bevestig dat die kanker reeds terminale vlak bereik het.
My hart was stukkend. Die wanhoop, hartseer en bitter vrae het stadig maar seker soos ‘n stikdonker skaduwee op my toegesak en my heeltemal omvou. Die dokters het dit bevestig, my pa sal my troue nie bywoon nie.
Dit het gevoel soos ‘n nagmerrie – ‘n nare grap. Ek het vir die Here gevra hoekom? Hoekom gee Hy my soveel hoop en vreugde net om dit op die laaste nippertjie weg te ruk?
Die Gees het my in daardie tyd aan twee goed herinner: “God is liefde” en “wees in alle omstandighede dankbaar”.
Met ‘n hart wat breek en onmoontlike vrae wat binne my woed onthou ek dat die Here my nog nooit in die steek gelaat het nie, en nog altyd alles in my lewe ten goede laat meewerk het. Ek sou nie toelaat dat die wanhopige werklikheid die Waarheid by my steel nie. Een lied het in daardie moeilike dae gereeld by my opgekom en het ek die Here ten spyte van alles geprys met die woorde: “Dan moet ek juig, my redder en my God. Hoe groot is U, hoe groot is U”.
Die Heilige Gees was hard aan die werk en ‘n nuwe idee het by my en my verloofde begin posvat. Deur die Here se genade het ‘n handjie vol mense op die 19de Oktober ingespring en vir ons nuwe hoop gebring. Net daar het die planne verander en die Here maak vir ons iets wonderliks moontlik!
Op die 20ste Oktober is my ma en boetie vooruit hospitaal toe om die nuus met my pa te gaan deel en te kyk of hy sterk genoeg en by sy volle bewussyn is, aangesien hy die laaste paar dae reeds baie deurmekaar was en kort-kort sy bewussyn verloor het.
Hulle kon nie glo hoe sterk hy is - helder van verstand - en selfs met hul gesels nie! Ek trek ‘n netjiese wit rokkie aan, wend my grimering sorgvuldig aan en my verloofde help my om my hare mooi te maak.
Op pad hospitaal toe sien ek die reën om ons neersous en onthou hoe spesiaal reën op ‘n troudag nog altyd vir my was. Die simbool van God se seëninge wat uitgestort word op ‘n nuwe egpaar.
Hospitaalpersoneel wens ons geluk terwyl ons die gang na my pa se privaatkamer afstap. Ons ouers, twee dominees en ‘n handjie vol familie is reeds daar. Daar langs my pa se hospitaalbed is ons in ‘n baie intieme en onbeskryflik-spesiale seremonie getroud.
My pa gee in ‘n fluister stemmetjie vir ons spesiale raad en seënwoorde vir ons huwelik. Hy teken selfs die register! Dit alles was soveel beter as wat ek ooit voor kon vra.
Ek verstaan nou hoekom die skrywer van Psalm 136 dié woorde na elke stelling herhaal: “Aan Sy liefde is daar geen einde nie”. Maak nie saak wat die Here in ons lewens toelaat, of wat om ons gebeur nie. Sy liefde bly konstant, Sy genade is meer as genoeg en as ons daaraan vas klou, sal Sy liefde en trou ons nooit in die steek laat nie.
My pa is 11 dae na ons huweliksbevestiging, en 14 dae voor ons bruilofsfees oorlede.