Ekerk nood projekte terugvoer: Desember 2013
November 2013 terugvoer
“Help liewer die mense wat nie self hulle saak kan stel nie. Wees jy hulle stem. Kom op vir die hulpeloses. Sê jou sê sodat die regte dinge kan gebeur. Sorg jy vir die armes en die onderdruktes” Spreuke 31:8-9 (Die Boodskap)
Hierdie teksvers het die 23ste November, tydens die ekerk Kerspartytjie by die Worcester Nuwe Hoop Sentrum (sentrum vir gehoor-gestremde kinders) ‘n realiteit vir my geraak. Waar ek gewoond is aan projekte besoeke aan verskillende organisasies en projekte, het ek nie baie te doen met kinders wat letterlik nie kan praat nie. Hier het hulle gesiggies die praatwerk gedoen.
Vir die 140 kinders by wie ons die dag spandeer het, was dit ‘n “vroeë Kersfees”. Jesus was ons Eregas. Daar is nie ‘n persoon wat die dag bygewoon het, wat nie aangeraak was deur Sy liefde vir Sy kinders nie.
DANKIE aan elke ekerker wie deur hulle bydra ‘n stem was vir hierdie kosbare kinders.
Desember 2013 funksie
Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: “En nou? Waar is al hierdie mense? Kon niemand so ver kom om ‘n klip op jou te gooi nie?” “Nie eens een nie, Here,” kom die antwoord. Jesus sê toe: “Ek gaan ook nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ‘n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ‘n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef” Johannes 810-11 (Die Boodskap)
Ons het die voorreg om vir ‘n groep dames wat uit ‘n gebroke agtergrond kom, ‘n Kersfees piekniek op die 23ste Desember te reël . Ons hou dit saam met die organisasie wat hulle help om weer op die been te kom.
Dis nie ‘n maklike proses vir die dapper vrouens nie. Waar hulle verkeerde keuses gemaak het om te “oorleef” deur hul te wend na prostitusie en dwelms, het hul die keuse gemaak om Jesus se hand te neem en Hom te vertrou vir ‘n beter lewe vir hul en hul kinders saam met Hom.
Ons wil hul graag ondersteun en help deur ‘n persoonlike geskenk-pakkie aan elkeen te gee, asook ‘n uitstappie see toe, met ‘n piekniek waar hulle en hul kinders die dag net kan geniet (iets wat so baie van ons as iets vanselfsprekend aanneem)
Mag die dag ‘n onvergeetlike Jesus ervaring vir hulle wees!
Januarie 2014 funksie
“Alles gebeur op ‘n bepaalde tyd. Alles in die lewe is vooraf bepaal..” Prediker 3:1 (Die Boodskap)
Die tyd het aangebreek vir die eerste Echo huis in die Kaap wat binnekort sy deure oopmaak. Daar gaan tussen 5 tot 8 jongmense in nood tussen die ouderdom van 18 en 25 daar woon. Tableview NG Kerk en 'n groep jong werkendes uit die Kaap stap reeds 'n pad met die ouens wat intrek en gaan aanhou om hulle te ondersteun.
Ons is opgewonde om die 25ste Januarie 2014 ‘n “Dak natmaak” funksie vir hierdie spesiale huis en sy inwoners te reël by die nuwe Echo huis self.
Daar kort nog heelwat om die huis nog meer soos ‘n huis te laat voel en ons wil hul graag help hiermee.
Hul lys van benodighede:
Broodplank
Vullisdrom
Meer messe, vurke en lepels
Potte en panne
Opskepbakke
Houers vir koffie, tee en suiker
Eetkamertafel en stoele
Wasmasjien
Bedkassies
Wasgoedmandjies
Gordyne (daar is baie vensters)
Enige skoonmaakgoed – van besem tot mop
Indien u ‘n bydra wil maak, kontak my gerus by: magriet@ekerk.org
DANKIE aan elke ekerker wat ons help om Jesus sigbaar,voelbaar en verstaanbaar te maak in die Kaap!