top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Gegryp deur Christus deur Willem Nicol [resensie]

deur Marius Nel

Willem Nicol het bekend geword vir sy beklemtoning van ’n spiritualiteit van stilte, van gebed wat ruimte laat dat die Here aan die Woord kom. Vandat hy geëmeriteer het, wy hy sy energie daaraan om dié spiritualiteit wyer bekend te maak, met die klem op Skrifmeditasie, gebed van die stilte, heiliging in die praktyk en spirituele begeleiding. Hy het dan ook wyd hieroor gepubliseer.

Aanvanklik het Willem in Nuwe-Testamentiese wetenskap gepromoveer en hier kombineer hy daardie vakkennis met sy belangstelling in die spirituele sy van die gelowige se lewe. Hy ondersoek Paulus se lewe met die bedoeling om lesers te bemagtig dat die Heilige Gees daardie woorde in ervaring vir hulle omskep.

Paulus vertel van ervarings met Christus wat sy woorde laat duisel het wanneer hy dit probeer omskryf. Willem glo dat ons aansluiting by dié ervarings kan vind sodat ons dit op ons eie manier saam met hom ervaar.

Daarom handel die boek oor waarhede in Paulus se teologie, maar die doelstelling is nie om kennis alleen oor te dra nie. Ervaring het tyd nodig om in te sink, redeneer die skrywer, en daarom is dit nodig dat jy dié boek (en Paulus) stadig en versigtig, nadenkend en belewend lees. Want die Here wil Homself ook aan jou as leser voorstel, soos Hy dit met Paulus gedoen het.

Paulus se briewe en preke (in Handelinge) vertel dat hy eerstens met die Here ontmoet het en dat dié ervaring bepalend was vir alles wat verder gebeur en hoe hy dit belewe het. Want in Christus ontdek hy ’n boodskap wat mense se lewens omkeer, en dit word die doel van sy lewe om dié boodskap met alle mense te deel. Die boodskap handel oor God se genade wat aan die mens gratis toegang bied en die wêreld in die kragveld omskep waar die Gees van Christus werk en beweeg.

Paulus skryf ook oor gebed, vrede, blydskap, keuses en besluite, hoe om met ander saam te lewe, jou liggaam, jou verhouding met die skepping, ouderdom, besittings, en ander onderwerpe wat bepaal hoe ’n Christen leef en optree. Dié boek bied ’n uitstekende inleiding tot al die onderwerpe, maar deurgaans vanuit die perspektief dat dit jou nie slim wil maak oor wat Paulus leer nie maar jou wil laat ervaar wat hy beleef het.

Elke hoofstuk bevat dan ook wenke hoe om jou spiritualiteit te verryk met Paulus se insigte, asook vrae gerig aan die individuele leser van die boek asook ’n kleingroep wat die boek saam deurwerk. En dit verhoog die waarde van die boek selfs meer.

Elke mens wat graag wil belê in sy of haar verhouding met die Here gaan dié boek met groot nut en oor ’n lang periode gebruik.

bottom of page