top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Dis Kersfees: onthou die Lig

deur Johan Smith

Die tyd vlieg. Ek kan so goed onthou dat ek verlede jaar op die blad ’n gedeelte geskryf het oor Jesus as Brood. Die Brood wat lewe gee, het gekom! So onthou dat tussen die skaapboud, gebakte aartappels en heerlike poedings die Brood die heel belangrikste is. Ek haal myself aan:

Ja, moenie die Brood vergeet nie — dis die heel belangrikste. Dis waaroor dit eintlik gaan. Dis eintlik al waaroor dit gaan: die Brood!

Hierdie jaar wil ek jou daaraan herinner dat Jesus van Homself praat as die Lig. Ja, waar jy ook al loop, is daar kersliggies. In verskillende stede en dorpe is die liggies behoorlik ’n skouspel. ’n Sekere huis in Pretoria-Wes is bekend vir sy liggies. Jakaranda kinderhuis is bekend vir hulle liggies. Elke winkelsentrum en winkel het een of ander vorm van kersliggies wat flikker en brand.

Tussen dit alles deur wil Jesus hê ek en jy moet Hom onthou as die Lig, die ewige lig wat gekom het om die duisternis te verdryf. Ja, ons leef in ’n donker wêreld. Kyk na die nuus op televisie of lees die koerant en jy sien en lees duisternis: dis bedrog, swak gesondheidsdienste, moord, doodslag, armoede, oorlog en geweld.

Tog, midde dit alles, is daar ’n wonderlike werklikheid: Jesus, die ewige Lig het aarde toe gekom. Hy het sy hemeltroon verlaat en volledig mens geword vir jou en vir my.

In Johannes 8 vers 12 staan juis geskryf:

Op ’n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld.”

Die bekende skrywer Joseph Stowell verduidelik dit so mooi:

Life is like a galaxy. There is always something at the center that defines and directs everything else that moves around it. As the sun is to our solar system, so the Son should be to our existence.

Mag Jesus, die ewige, helder Lig, jou lig wees hierdie Kerstyd. Mag jy nuwe lewe ervaar as gevolg van die Lig. Mag Jesus, die Lig die middelpunt wees van jou bestaan.

bottom of page