Sakramentele Potensiaal
deur Tom Smith
Ons leef in ’n fantastiese land met wonderlike mense. ’n Paar van my vriende het vyf jaar gelede ’n organisasie gestig wat die jongmense van ons land help om hulle volle potensiaal te bereik. Die idee is om deur vriendskappe mekaar te bemoedig en sodoende ’n veiliger Suid Afrika te bevorder. Gedurende die laaste twee jaar het ek die voorreg gehad om vyftien van hierdie jongmense van Youthzones (www.youthzones.co.za) vir ’n vier dag staptog in die Drakensberg te neem.
Elke jaar ontdek ek opnuut hoe braaf hierdie jongmense is. CS Lewis het eens opgemerk dat “next to the Blessed Sacrament itself, your neighbor is the holiest object presented to your senses.” Samuel Mokwana is een van hierdie heiliges. Hy woon in ’n plakkerskamp naby een van ons land se groot myne. Sy lewe is egter diep grond waarin goud ontgin word.
Soos meeste jongmense wat in plakkerskampe grootword kan Samuel nie swem nie. Toe ons op die eerste dag van die staptoer by ’n poel water stop het hy versigtig langs die kant gesit. Iemand dog hy is nie lus om te swem nie en gooi hom toe in die water in. Dit was die eerste keer in sy lewe dat hy kop-onder-die-water in ’n poel beland. Sy vriende help hom toe om nie te verdrink nie.
Tydens ons aand sessie het ons gereflekteer oor die dag en tot ons almal se verbasing was dit die hoogtepunt van sy dag. Hoekom? Want hy het sy vrees van water aangedurf en is nou vasbeslote om te leer swem. “Sal julle my asseblief help?” vra hy sy makkers.
Die volgende dag stap ons toe na een van die mooiste plekke in die Drakensberg met die naam “Marble Baths.” Hier het die rivier die sandsteen klippe gepoleer om so glad soos marmer te wees en ’n natuurlike “supertube” te vorm. As deel van die dag se lewenslesse gaan die hele groep toe by die glybaan af. Samuel was verstaanbaar vreesagtig. Weens die aanmoediging van sy vriende het hy egter sy vrees oorwin en in die rivier in geplons.
Onder in die poel het ek gereed gestaan om hom te vang. Toe hy onder aankom het hy my omhels en van verligting begin huil. So het die twee van ons mekaar vasgehou in ’n oomblik van broederlike vriendskap. Daardie dag sal vir ewig in my gedagtes vasgevang wees. Samuel spoor my aan om ook braaf te wees. Ons woon in ’n land met soveel sakramentele potensiaal!