top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Geluk is binne jou bereik

deur Maretha Botes

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die Vrouekeur tydskrif.

“Ek struggle nou al lank met hierdie vraag: Wat maak my regtig gelukkig?” sê ’n vriendin onlangs uit die bloute oor ’n koppie koffie.

“Ek bedoel, is daar een ding wat ek sou kon kies om my vir ewig gelukkig te hou, of is dit ’n kombinasie van goed wat ’n mens innig gelukkig maak? En is dít wat jou gelukkig maak nie veronderstel om voor die hand liggend te wees nie?”

Dié vriendin is eenlopend en het nie kinders nie. Wat sy sou kies en wat mevrou X sou kies, sal seker hemelsbreed verskil.

Vriendin borduur voort: “Is mense hoegenaamd nog gelukkig?”

Kenners meen as jy weet waar om geluk te soek, jy dit jou eie kan maak. Daar is wêreldwyd ’n swaai na sogenaamde positiewe sielkunde en al hoe meer navorsing word oor geluk gedoen.

Positiewe sielkunde fokus op positiewe emosies, geluk, optimisme en gesonde karaktereienskappe, terwyl tradisionele sielkunde op dié dinge fokus wat die mens siek maak.

Dr Martin Seligman, ’n sielkundige aan die Universiteit van Pennsilvanië, fokus op optimisme, ’n eienskap wat met goeie gesondheid, minder depressie en geestesiektes, ’n langer lewe en ja, groter geluk, geassosieer word.

Dan was daar dr Edward Diener, oftewel Dr Happy, wat meer as twee dekades daaraan gewy het om uit te vind wat mense gelukkig maak en wat nie.

Miskien dink jy rykdom en alles wat geld kan koop, sal jou gelukkig maak.

Dink weer. Dr Edward se navorsing het bewys sodra die mens se basiese behoeftes bevredig is, ekstra inkomste min doen om die vlakke van tevredenheid enlewensbevrediging te verhoog. Dan moet dit seker ’n goeie opvoeding wees? Weer verkeerd. Dieselfde geld vir ’n hoë IK.

Navorsing deur die Centers for Disease Control and Prevention in Amerika het bewys jeugdigheid is ook nie die sleutel tot ware geluk nie. Mense tussen 20 en 24 is vir ’n gemiddelde van 3,4 dae per maand hartseer, terwyl dié tussen 65 en 74 net 2,3 dae per maand hartseer voel.

Aan die positiewe kant blyk dit dat geloof en hegte vriendskapsbande ’n rol speel. Dr Edward en dr Martin het in 2002 bevind die één karaktereienskap wat deur die 10% studente met die hoogste vlakke van geluk gedeel word, is hegte bande met vriende en familie en dat hulle tyd saam met dié mense deurbring.

Dr Edward sê dit is belangrik en nodig om aan sosiale vaardighede, hegte inter­ persoonlike verhoudings en ’n sosiale ondersteuningsnetwerk te werk om gelukkig te wees.

In sy boek Jesus, Radical, Righteous, Relevant sê prof Stephan Joubert: “Die lewe versnel te vinnig. Verder is nader as ooit tevore, en hoër is laer as voor­ heen. En steeds soek mense na geluk. Stresvlakke en verwante spannings­ toestande is oral buite beheer. Hoe kan mense gelukkig wees as hulle nooit meer weet watter kant toe dinge gaan nie?

“Volgens Time Magazine is daar in 2006 drie keer meer inligting die wêreld ingestuur as wat ooit in boeke saamgevat kon word. Ons lewens word al hoe meer deur rekenaars, selfone, iPods, iPads, platskerm­TV’s, Skype, MXit, Facebook en Twitter oorheers. Die goeie én die slegte nuus is dat ons 24/7 bereik kan word. Nêrens is meer privaat nie. Jy kan selfs bo­ op Everest bereik word.

“Geluk is relasioneel. Daar is ’n verskil tussen happiness en joy. Eersgenoemde is situasiegebonde en word deur gunstige omstandighede bepaal. Laasgenoemde is verhoudingsmatig. Geluk is nie slegs emosioneel nie, anders word ons spoedig slagoffers van ons wisselende emosies. Baie Christene trap in hierdie wip. Hulle stel hul Christelike gevoelens en ervarings aan God se nabyheid gelyk, maar beleef hul eie emosionele downs as die afwesigheid van God.”

Volgens prof Stephan loop gevoelens van geluk hand aan hand met tevredenheid met wie en wat jy is, asook ’n diepe vrede oor jou menswees. Geluk groei wanneer jy van selfgesentreerde behoeftes en die najaag van materiële sukses en verbrui­kersbehoeftebevrediging wegbeweeg.

“Dít is waarom die meeste mense nooit diep geluk vind nie. Hul idee van geluk werk soos ’n dwelm. Hulle het retail therapy nodig om gelukkig te wees. Of een of ander tydelike plesier. As dit verby is, soek hulle nog ’n kick. Daarom is die skuif van sukses na significance nodig,” sê hy.

“Significance gebeur wanneer jy vrede maak met wie jy is, want dan verdwyn ’n blamerende houding waar jy vingerwysend na ander leef as die oorsaak van jou slegte omstandighede. Terugslae en teenstand is dan net tydelik en mensgemaak en nié karakterflaws in jouself óf ander nie.”

Ons moet onsself omring deur mense wat lig sien

Prof Stephan meen geluk “werk nie” as jy dit doelbewus nastreef nie. Dr Martin het dit ook in sy navorsing bevind. Diep geluk is altyd ’n neweproduk van ’n goed geleefde lewe. Daar is egter só ’n skuif wat ’n mens moet maak om gelukkig te wees en dit is om jouself te kan gee.

“Eers wanneer ons leer die doel van ons lewe is die weggee van onsself en die dien van ander, breek geluk werklik deur. Dit is deel van ons DNS om ons selfsug in te ruil om te dien en te deel. Om sulke geluksroetes te vind, moet ons onsself omring deur mense en connoisseurs wat die mooi in ander raaksien; wat lig sien terwyl ander in die donker rondploeter; wat stories van hoop vertel; wat glo as ander ophou glo ...” sê prof Stephan.

“Geluk vra ook vasbyt. Doelbewuste dade om elke dag saam met Alice in Won­derland en die Mad Hatter ’n ‘very merry unbirthday’ te hou!”

Dr Elmo Pienaar, ’n gesinsterapeut van Pretoria, sê ons moet onthou mense het verskillende persoonlikhede. Daar is dié wat in haglike omstandighede kan lag en vir sommige is ’n suurlemoengesig hul allerbeste fotopoging. Hy sê die media dra by tot mense se idee van geluk, of wat hulle “nodig het” om gelukkig te wees, en mense val halsoorkop daarvoor.

“Jy sien ’n prentjie van iemand wat heerlik op ’n duin in ’n 4x4 rondrits. Vir ’n oomblik glo jy dat jy ook gelukkig sal wees met dié ryding. Die vraag wat ons móét vra, is waarvoor hierdie aardse goed staan wat ons so naarstig najaag? Is daar dalk ’n soeke na aanvaarding, liefde of agting?”

Geluk is nie iets waarna jy soek nie

Magriet Smit, stigter van Word4Word­ leesprojekte, se lewe het ’n donker draai gemaak voordat sy “ware geluk” gevind het. “Vandag is geluk vir my om my seuntjie uit sy maag te hoor lag. Om glimlagte op ander se gesigte te sien nadat hulle vroeër moedeloos was. Gehalte­ oomblikke saam met goeie vriende.

“Geluk is nié iets waarna jy soek nie. Dit is reeds binne jou. Dit is jou keuse of jy jouself dit gaan gun om geluk in die een­voud van die oomblik te ervaar,” sê sy.

“Voor my egskeiding was ek ’n ander mens. Sielsongelukkig, selfgesentreerd, gefrustreerd. Ek het geglo die wêreld draai om my. Vir my was geluk gelyk aan geld, gekoopte oomblikke, oorsese reise, mooi klere en blink, leë, hardlag­oomblikke.

“Ná my egskeiding het ek hard geval. Ek moes letterlik van onder af begin om die stukke op te tel. Geluk was iets wat ek gevoel het nié vir my beskore was nie. Ek het gefaal – as mens, vrou en ma.

“Skielik kon ek nie meer bekostig om na die mooi plekke te gaan en pragtige produkte te koop waaraan ek gewoond was nie. Alles goed waarmee ek ’n leemte in my hart probeer vul het. Ek was gestroop van alles en almal van wie ek verwag het om my gelukkig te maak.

“Dit het nie oornag gebeur nie, maar stadig maar seker het ek agtergekom wat vir my geluk bring. Ons is nie gebore om selfgesentreerd te wees nie. Die spreek­ woord ‘dis beter om te gee as om te ont­vang, het ’n realiteit in my lewe geraak.

“Waar ek myself baie jammer gekry het wanneer my seun elke tweede naweek by sy pa-­hulle gaan kuier het, het ek begin om hawes van veiligheid en kinderhuise te besoek. Wanneer ek myself uitvang dat ek mismoedig voel, het ek gaan hoor of ek nie by die plaaslike hospitaal kan help nie. Daaruit is my onderneming gebore, Word4Word­leesprojekte. Ons reik na ander uit deur hulle te bemagtig.

“Dit was later nie meer ’n oomblikding om aan ander te gee nie, maar ’n lewen­styl. Ek het gekies om daagliks ’n verskil in ander se lewe te maak. Vandag is ek ook deel van die ekerk­ span vir wie dit ’n lewenstyl is om mense se harte te raak deur van hulself te gee.

“Is dit gemaklik? Nee. Voel ek soms ek gee sonder om terug te kry? Soms. Sal ek dit weer doen? Sonder twyfel: Ja!”

bottom of page