Te goed vir Jesus se buurt?
deur Stephan Joubert
“We’ve all been living so good we’ve moved out of Jesus’ neighborhood,” skryf Derek Webb. Dit maak my bang. Ek kan allerlei redes aanvoer hoekom ek dink hy het Jesus dalk verkeerd verstaan. Net so kan ek goeie redes uitdink hoekom ek bly waar ek bly. Ek sou kon aanvoer ek woon in ’n gevaarlike land. Daarom dat ek goeie karre moet hê en veilig moet bly. Eintlik is dit maklik om alles in my lewe te regverdig. Tog, nadat ek myself goed verdedig het, bly Webb se woorde steeds in my kop rondmaal. Wie weet, dalk het ek tog uit Jesus se woonbuurt verhuis. Dalk bly ek nie aldag meer daar waar Jesus bly en rondbeweeg nie.
Jesus is God. Maar Hy is ook die Woord wat mens geword het. Sy voetspore lê orals rond tussen siekes, vergetenes, arrogantes en gewondes. Sy vriende is randfigure, hoofstroom-uithangers en Godloses. Agter die doodlyn soek Hy hulle op. Gedurig briek Hy langs diegene wat hulleself nerf-af geval het oor sonde en slegte dinge.
Volgens die Bybel trek ek nader aan Jesus se buurt as ek feesmaaltye hou vir diegene wat my nie kan beloon hiervoor nie, soos wat Jesus vertel in Lukas 14. Ek skuif doelbewus nader aan Jesus se gunsteling kuierplekke as ek feeskos met ander begin deel wat dit nie kan bekostig nie. Dan vra ek nie maar net in my gebede vir die Here om met die “minderbevoorregtes” te wees en gaan ewe rustig voort met my groot ete nie. Ook trek ek nader aan Jesus se woonbuurt as ek klein genoeg raak in myself om ander mense met respek te behandel, soos wat Hyself altyd gedoen het. Paulus se woorde in Filippense 2 dat ons ander moet hoër ag as onsself weerspieël juis die hartklop van Jesus. Ook is ek besig om in sy rigting te verhuis as ander in Sy Naam bo-op my hande staanplek kry. Dit gebeur ook as hulle van sy liefde op my lippe en deur my lewe hoor.