top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

As ek net meer ure in my dag gehad het!

deur Alet Gardner

Ek betrap myself gereeld dat ek ’n tipiese verjaagde Westerling is wat uitmekaar geskeur word deur die middelpuntvlietende kragte van my leefwêreld. Werk, huis en tuin wat aandag nodig het, familiepret en –probleme, soms sukkel met pyne en geite, die effek van die ekonomie op ons eie lewe en op dié van ons dierbares en al die baie ander wat swaar kry, is maar net ’n paar van die dinge wat op hulle eie bietjie stresvol kan wees, maar saam-saam naderhand net te veel raak. Hierdie langdurige stres het natuurlik naderhand nadelige fisiese gevolge, soos wat navorsing nou bewys. Die eerste ding wat gebeur is dat ’n mens se immuunsisteem verswak word — en eintlik bring jy dit oor jouself! Geen wonder Salomo het gesê dat ’n mens versigtig moet wees met wat in jou hart omgaan nie — dit bepaal werklik jou lewenskwaliteit, jou héle lewe.

Wanneer ek van tyd tot tyd vind dat stres en swaarmoedigheid my wil vasdruk, probeer ek om so gou moontlik by die Here te gaan raad vra. In my daaglikse stiltetyd en van tyd tot tyd in gesprek met ’n verstandige vriend/vriendin ontdek ek baie dikwels dat ek alweer te veel begin fokus op tydsbestuur en vergeet van lewenskwaliteit.

Die Griekse woorde chronos en kairos gee iets weer van die wyse gebruik van tyd. Chronos is opeenvolgende momente, tyd wat verloop, afgemete kalendertyd. Dit sê vir my iets van ’n lys van dinge wat gedoen moet word, afgemerk kan word, afgehandel kan word.

Kairos weer is ’n seisoen — dit wat tyd ons die geleentheid gee om te doen. Dit gaan om die noodsaaklikheid van die taak voor hand ongeag of dit ’n goeie, gerieflike geleentheid is of nie. Dit wil iets sê van die kwaliteit van lewe wat in hierdie oomblik vasgevang is.

Jesus het geleer (en ek vergeet self hierdie les so maklik!) dat ons ’n ewigheid se lewe in dagdigte kompartemente moet inpas. Daarom moet ek my nie bekommer oor tyd wat vlieg, ’n oorvol dagboek wat ek sukkel om te bestuur, en die heeltyd hardloop om nêrens te kom soos ’n hamster in sy oefenbal nie.

Ek kan eerder kies om die Heilige Gees toe te laat om my gedagtes te beheer, om die vrug van selfbeheersing (selfdissipline) in my lewe sigbaar te maak, sodat die gawes en talente wat God in my gedeponeer het, die kosbare chronos wat Hy vir my gee, kairos-geleenthede sal maak wat ewigheidswaarde het.

Ek moet verantwoordelik met die chronos omgaan, want dit is waar ek die kairos prakties moet inpas. Dis reg dat ons huise bou, tuine plant en kosmaak, kinders grootmaak, ’n bydrae lewer tot die vrede in en opbou van die land waarin ons woon — of dit nou in Suid-Afrika of êrens in die buiteland is. Maar dit behels die gebruik en bestuur van chronos.

“Om vandag nog te doen wat God in ons harte geplaas het om te doen, is die regte manier van tyd-opgebruik. Dan woeker ons met ons stukkie tyd hier op aarde.” — Stephan Joubert


 

KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

e | info@ekerk.org

c | 083.670.9974

f  | 087.123.4567

Posbus 11315, Aston Manor 1630

52 Weltevreden Crescent, Kempton Park

Regnr:  2004/011580/08

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page