top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Sosiale media is toe nie aldag sosiaal nie. Dis dikwels kunsmatig en narsisties...

deur Stephan Joubert

“Hoeveel followers het jy?” vra iemand my uit die bloute. “Nee wat, eintlik niks! Ek weet egter dat ek Jesus se follower ek is,” antwoord ek. “Jy verstaan my verkeerd, hoeveel followers het jy op Twitter?” “O, ek begryp. Wel, so ’n klompie. Maar hulle is nie regtig myne nie. Ek besit of beheer hulle nie...” verduidelik ek. “Wel my eie volgelinge het die afgelope tyd verdubbel,” gaan hy ongevraagd voort. “Ek het ’n app gekry op die internet wat volgelinge soos vlieë aantrek.” “En die punt is wat?” vra ek.

Een van die “skokke" rondom die nuwe digitale wêreld wat ek gedurig moet verwerk is dat sosiale media nie altyd so sosiaal is as wat ons dink nie. Inteendeel, dis dikwels kunsmatig en gemanipuleerd. Dit was nogmaals vir my duidelik toe ek iewers saam met iemand koffie drink en hy skielik opmerk dat een van sy Facebook vriende pas by ons verby geloop het. “Vir wat groet julle mekaar dan nie?” vra ek... want ek het opgemerk hulle het mekaar raakgesien. “Nee, ons is net Facebook friends,” merk hy droogweg op.

Vir baie het Twitter, Facebook, LinkedIn, Instagram, en noem maar op, kunsmatige media geword om getalle te jaag en... wie weet... hulle te laat beter voel oor hulleself. Van Facebook gepraat, navorsing in 2012 wys dat Facebook gebruikers sowat 21% van hulle tyd op hierdie platform wy aan die instandhouding en opdatering van hulle eie profiel. Die Britse Daily Mail vertel vroeër op 9 September 2010 in ’n artikel: “Facebook users are insecure, narcissistic and have low self-esteem,” van ’n studie deur Soraya Mehdizadeh van York University in Kanada wat daarop neerkom dat die gebruik van Facebook die ekwivalent is van om na jouself in ’n spieël te staar. Menslike narsisiste, wat heimlik verlief is op hulleself, moniteer hulle voorkoms gereeld op Facebook en floreer volgens Mehdizadeh op vlak verhoudings terwyl hulle egte warmte en empatie systap.

Goddank nie almal gebruik sosiale media ter bevordering van hulself nie. Vir vele is dit inderdaad ’n interaksie platform. Dit is by diesulkes waar mooi “tribes” dikwels vorm aanneem, oftewel, groepe wat rondom dieselfde waardes en belangstellings groei en die lewe saam doen. Hulle interaksies is kreatief en hul belangstelling in mekaar opreg. Hulle verval nie in monoloë in die kuberruim nie, maar hulle skep egte interaksies. Hulle saamgesels en saamleef in die digitale sfeer loop oor in aksies in die regte lewe. Hulle skuil nie agter kunsmatige digitale persona’s nie, maar integreer die verskillende realiteite waarbinne hulle leef.

 

KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

e | info@ekerk.org

c | 083.670.9974

f  | 087.123.4567

Posbus 11315, Aston Manor 1630

52 Weltevreden Crescent, Kempton Park

Regnr:  2004/011580/08

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page