Die Oorwinning deur Travis Thrasher [resensies]
deur Marius Nel
Home Run is ’n gewilde fliek wat reeds deur talle mense gesien is, en dié boek is daarop gebaseer.
Home Run vertel die storie van ’n bofbalster wat beroemd word omdat hy ’n uitmuntende sportster is, maar sy persoonlike lewe val uitmekaar. Alles raak net meer en meer buite beheer vir hom. Sy verlede haal hom in, die foute en sonde van vroeër spook by hom en hy leef van spyt en skande. Sy toekoms wat so blink soos ’n ster op die veld is, is hooploos wanneer hy uit die kleedkamers stap. Hy behaal die een oorwinning na die ander as sportheld en die een mislukking na die ander wanneer hy met sy gewone lewe probeer aangaan. En hy wy sy lewe aan sonde.
Een fout wat hy maak, verander alles. En hy word gedwing om na sy wortels terug te gaan, na die dorpie waar hy groot geword het. Terwyl hy ’n rehabilitasieprogram moet voltooi, rig hy ook die plaaslike juniorliga-span af. En sy missie is om so gou as wat menslik moontlik is met sy lewe aan te gaan en weg te kom uit die dorpie van sy kinderherinneringe.
En dis juis hier wat hy sy rieme styfloop en waar sy verlede hom finaal inhaal, wanneer hy sy jeugliefde weer ontdek. Hy kry ’n tweede kans, en hy leer eerstehands wat genade beteken: om iets as ’n geskenk te kry wat jy nie verdien nie. Want hy ontmoet die Here wat hom in staat stel om bevry en heel te word en met vertroue ’n nuut geskape toekoms binne te stap. God word sy hoop.
Die skrywer is bekend vir sy werk wat handel oor eerlikheid en integriteit.
Hier het jy ’n verhaal wat opbouend is en jou vertroue verstewig, iets wat min boeke regkry. ’n Inspirerende verhaal van ’n man met wie die Here ’n pad stap.