top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Soms werk die Heer op vreemde maniere

deur Stephan Joubert

Jare gelede het een van my dominee-vriende ’n moeilike gemeentelid gehad; een van daardie soort wat g’n einde geken het as dit by vriendskap met die bottel en laataand kuiers by die plaaslike kroeg gekom het nie. Om dinge te vererger het hierdie gemeentelid dit nie te goed gevat as iemand hom uit die kroeg wou gaan haal het nie. Die vorige dominee het juis ’n gebreekte neus as “aandenking” oorgehou nadat hy een Saterdagaand so iets probeer het. Toe my dominee-vriend ’n ruk later daar as nuwe dominee op die dorp aankom, het hierdie drinkbroer se vroutjie gou-gou by die pastorie kom raad vra. Maar manlief het net aanhou drink vir die eerstespan. So het dit aangehou tot een Saterdagaand dat vroutjie vir dominee mooi kom vra het om haar man uit die kroeg te gaan haal, want hy is alweer besig om hulle laaste geldjies uit te drink.

By die kroeg aangekom, het doomnis die broer ernstig vermaan om huis toe te gaan. Oudergewoonte het die drinkebroer dadelik agter sy vuiste ingeklim. Immers, hy’t darem al een dominee op sy kerfstok gehad. En tussen al die harde baarde deur sou ’n tweede platgeslaande dominee sy status tot ongekende hoogtes laat styg. Maar vriend doomnis kan self die appels goed swaai. En hy’t nie op hom laat wag nie. Toe drinkebroer nog so in die lug pik-pik, tref doom hom met een van daai regters waaroor enige swaargewig net kan droom — uit soos ’n kers! Sy pêlle moes hom later bedremmeld huistoe dra.

En toe gebeur die wonderwerk: die volgende oggend was hierdie einste broer in die kerk, skoongeskeer en nugter. Volgende Sondag ook. Kort voor lank is hy selfs op die kerkraad verkies. Maar dis veral vroulief se woorde aan vriend-dominee wat ek nou nog onthou: “Dominee, om te dink jy’t my man met een hou uit die kroeg tot binne-in die koninkryk van onse Here geslaan!” Soms werk die liewe Heer op vreemde maniere!

bottom of page