top of page

Nie goed genoeg nie? Dink weer...

deur Johan Smith

Die 22-jarige Katie Davis wat haar gerieflike lewe in die VSA opgegee het om vir ’n jaar, wat later voltyds geword het, in Uganda te werk skryf so mooi:

He chose Moses. He chose David. He chose Peter and Paul. He chose me. He chose you. Common people. Simple people. People with nothing special about them. Nothing special except they said yes.

Moses, die uiteverkoerene van God wat met die hand deur God gekies word om die volk uit slawerny uit Egipte te gaan bevry. Dis hoe die meeste van ons vir Moses ken en onthou. Ons is gou om te vergeet dat in Eksodus 2 vir ons beskryf word hoe hy ’n Egiptenaar doodslaan en sy lyk onder sand toegekrap het. Dis Moses wat baie doodgewoon was en sy skoonpa se skape opgepas het — nie werklik ’n vooraanstaande werk en/of posisie nie. Tog gebruik God hom groot.

Koning Dawid onthou ons vir sy oorwinning oor Goliat en vir sy vele veldslae waar hy as oorwinnaar vandaan gekom het. Ons is vinnig om te vergeet dat hy owerspel gepleeg het met Batseba, ’n getroude vrou en die hoof-organiseerder was dat haar man in ’n veldslag omkom. Ja, aandadig aan moord. Tog gebruik God hom groot.

Petrus is die grootmond wat belowe dat Hy Jesus nooit sal verloën nie. Jy ken die verhaal en drie keer wat hy Jesus verloën voordat die haan kraai. In Johannes 21 reik Jesus ’n hand na Petrus uit — ’n hand van herstel — “laat my skape wei”.

Paulus aan die anderkant keur die wrede stenigings-moord op Stefanus goed en wens die manne wat die doodskote met klippe gegooi het, geluk. Tog, ontmoet God hom oppad na Damaskus en Paulus word ’n kragtige instrument in God se hand.

Wat van jou? Wat is jou storie wat jou volgens menslike standaarde diskwalifiseer? Dink weer, dink aan Moses, Dawid, Petrus en Paulus. Maak reg met God en sien sy liefdevolle arms om jou. Hy is ’n God van herstel, vergifnis, genesing en ’n nuwe begin.

bottom of page