top of page

Hou boek van al die plusse in jou lewe

deur Helena van Emmenis

Ons vroue hou van ’n mooi joernaal en elke boekwinkel het deesdae die pragtigste joernale.

Die hoofdoel van die joernaal is om ons daaraan te herinner om aan God die eer te gee vir sy getrouheid en natuurlik om dankbaar te wees. Ek het reeds talle voorbeelde in my eie lewe beleef waar God my gebede verhoor het en my joernaal bewys dit.

Nou hoe kan ’n joernaal van waarde wees? Die volgende is voorbeelde:

  • Om die negatief ingestelde persoon te help om nuwe, positiewe denkroetes in die brein te ontwikkel. Die negatiewe persoon is geneig om die “maklike” negatiewe roete te gebruik. Dit kan vergelyk word met ’n voetpad wat al breër word soos wat dit uitgetrap word. Dit raak ’n gewoonte om die uitgetrapte pad te gebruik. Met die hulp van ’n berader kan die persoon gehelp word om nuwe positiewe denkroetes te vorm deur die skep van ’n dankbaarheidsjoernaal. Aanvanklik sal die negatief ingestelde persoon niks kan vind om oor dankbaar te wees nie. Die rol van die berader is hier baie belangrik. Hoe meer sulke persone bewus (gemaak) word van dinge waarvoor hulle dankbaar kan wees, hoe meer besef hulle hoe geseënd hulle is en hoe sterker word die positiewe ingesteldheid.

  • Om ongunstige gebeure uit die verlede waarmee nog nie vrede gemaak is nie, te verwerk. Sodanige gebeure is gewoonlik gekoppel aan emosionele trauma, wat weer die denke en persepsies van die betrokke persoon beïnvloed. Aangesien emosies sterker is as rasionele denke, word dit nodig om die ervaring(s) neer te skryf ten einde die rasionele sy van die brein (die sogenaamde linkerbrein) betrokke te kry. Só kan die persoon insig in die spesifieke situasie(s) kry. Slegs dan, en met die hulp van ’n terapeut, sal emosies soos bitterheid, aggressie en hartseer plek maak vir, byvoorbeeld, empatie. En dan sal die persoon gereed wees om te vergewe en te vergeet. Dankbaarheid tree dan in omdat daar vrede in die persoon se gemoed kom.

’n Dankbaarheidsjoernaal is dus ’n manier waardeur iemand vanuit ’n donker toestand van negatiwiteit na die lig van positiwiteit en liefde gelei word.

Strook dit nie dalk met Paulus se opmerking in 1 Kor 13 dat die liefde nie boekhou van die kwaad nie... maar dalk van iets anders!

bottom of page